PHS krieketspelers meet kragte teen Kempton Park
Die krieketspanne van Hoërskool Pietersburg (PHS) het op Saterdag, 17 Februarie die koppe behoorlik laat draai toe hulle gelykop gespeel het en ook gewen het teen die spanne van Hoërskool Kempton Park.
POLOKWANE – PHS se o/15-span het tuis gespeel en 235 lopies aangeteken, almal uit, nadat hulle eerste gekolf het. Merkwaardige kolfsyfers was deur Xander Quin, met 49 lopies, Tiaan van den Heever met 36 lopies, Afxenti Kkoutas met 34 lopies, aangeteken. As gevolg van die reën kon PHS net vier beurte boul en die wedstryd was afgelas en die skole speel gelykop. Tans lê PHS se o/15-span sewende op die nasionale skolekrieketranglys.
Die eerstespan het weg gespeel en tydens hul wedstryd 227/8 in 50 boulbeurte aangeteken. Glen Groenewald met 86 lopies en Tiaan Enslin met 36 lopies is die kolwers wat tydens die wedstryd uitgestaan het.
PHS het Hoërskool Kempton Park vir 202 lopies uitgeboul en die top boulers van PHS was as LJ Fick, Wian Kruger, Glen Bezuidenhout en Gerhard Venter aangewys. PHS wen die wedstryd met 25 lopies.
PHS se krieketorganiseerder, Linkie Roodt, het aan Review vertel dat sy baie trots is op beide spanne en daarna uitsien om hulle prestasies teen die einde van die seisoen te sien.






