Gesogte Beeld-trofee weer in Pietie-hande
POLOKWANE - Die vreugdevure het Saterdag hoog gebrand toe die kaptein van die Hoërskool Pietersburg se o/16A-rugbyspan, Franco van der Watt, die Beeld-trofee bo sy kop gelig het.
POLOKWANE – Die vreugdevure het Saterdag hoog gebrand toe die kaptein van die Hoërskool Pietersburg se o/16A-rugbyspan, Franco van der Watt, die Beeld-trofee bo sy kop gelig het.
Dié span se oorwinning oor Hoërskool Ben Vorster in die Beeld-trofee finaal, wat in Klerksdorp gespeel is, was dié span se derde Beeld-trofee oorwinning in drie jaar.
Hulle het as 0/14-, o/15- en o/16-span met hierdie gesogte trofee in die afdeling vir grootskole weggestap.
Anna-Marie Schoeman het aan Review vertel dat hierdie eindstryd vir ‘n hele paar naelbyt-oomblikke gesorg het.
PHS het die wedstryd met 25-22 gewen nadat hulle in die tweede helfte van die wedstryd behoorlik moes terugveg teen Ben Vorster se aanvanklike 22-13 voorsprong net voor rustyd.
“Ben Vorster het daarin geslaag om met elke losbal agter die doellyn te gaan kuier en dit het deursettingsvermoë en vasbyt van ons span gekos om die uiteindelike oorwinning te verseker,” het Schoeman gesê.
“Baie geluk en baie dankie aan die span en hul afrigters, Sybrand Koedyk en Paul Erasmus.
“Dankie aan al ons borge wat ‘n suksesvolle seisoen help verseker het. Die hele PHS is trots op ons wenspan.”



