Boeke- en filmfees bied iets vir almal
Die BoekJol en FilmRol-fees het inwoners van Polokwane die geleentheid gegee om fees te vier tussen interessante boeke en skrywers van formaat.

POLOKWANE – Die BoekJol en FilmRol-fees het inwoners van Polokwane die geleentheid gegee om fees te vier tussen interessante boeke en skrywers van formaat.
By die Pietersburg Klub kon gaste op Donderdag, 19 September, Vrydag, 20 September en Saterdag, 21 September, tussen boeke van verskillende skrywers en uitgewers rondslenter.
Gaste kon kaartjies koop om vertonings van Awie van Wyk se vertolking van Sneeuwitjie van die Veld en Anna Davel se Ontbyt op Note by te woon.
Belangstellendes van fotografie het die geleentheid gehad om te luister na Robby en Mari-Let Sandrock se Argitektuur deur die Lens.
Die stad se kleuters is bederf deur voorlesings deur die bekende kinderboekskrywer, Keina Swart.
Verder was daar boekgesprekke deur skrywers soos Sophia Kapp, Chris Schoeman, Johann Lodewyk Marais, C. Johan Bakkes en Ilse Salzedel.
Leon van Nierop en De-rick van der Walt het rolprentresensies oor hul onderskeie films, Wolwedans in die Skemer en Lien se Lankstaanskoene aangebied.
Bernard Odendaal kon gaste leer van skryfkuns en Leon van Nierop het ook ‘n skryfskool aangebied.
Op Donderdagaand kon gaste kuier saam met BlouWillem Theron by die Pietersburg Klub en Vrydag het die skrywers ‘n middagete saam met die organiseerders en die pers geniet en die toekoms van die fees bespreek.
“Die BoekeJol en Filmrol Fees was baie suksesvol. ‘n Klein begin is gesond sodat daar ruimte is vir groei,” het Dia van Staden, organiseerder van die fees, gesê.