‘n Aand van samesang en musiek
'n Tot-oorlopens-toe vol ouditorium het sangers staande toegejuig
‘n Tot-oorlopens-toe vol ouditorium het sangers staande toegejuig na ‘n genotvolle aand van koormusiek en orrelspel.
Prof. Awie van Wyk, bekende en geliefde Suid Afrikaanse komponis, musikus en koorleier het verlede Woensdagaand ‘n musiekfees aangebied by die Sterpark Ouditorium met plaaslike talent wat asems weggeslaan het.
Benewens die Polokwane gebasseerde koor, Ensemble Esprit, wat onder andere ‘n toonsetting deur Van Wyk van AG Visser se Sneeuwitjie van die Veld vertolk het, het die Tzaneen Gemeenskapskoor gesorg vir onvergeetlike suiwer klanke met onder andere die Verlossingslied, ‘n lied geskryf deur een van die koorlede met musiek gekomponeer deur die koorleier, Rina Klaver.
Van Wyk het die gehoor in die palm van sy hand gehou deur samesang af te wissel met koormusiek en solo-uitvoerings.
Hy het ook met trots aangekondig dat Ensemble Esprit hul Unisa kooreksamen met hoogste lof geslaag het.
‘n Solouitvoering deur Lizelle Pienaar, begelei deur pianis Marius Botha, het toehoorders hoendervleis gegee.
Die gehoor se reaksie op haar uitvoering van ‘n Edith Piaf lied, vyftig jaar na díe legende se dood, het weereens bewys dat die legende onsterflikheid gewerf het deur haar musiek.
Marius se vaardigheid as musikus en pianis en sy twee eie komposisies The Hunted en Reën het waardering van die gehoor uitgelok.





