EntertainmentLifestyle

Groot Bokke ‘fan’-genot

Gavin Nel was laas in 1995 op Ellispark waar hy kort na die Springbokke die Wêreldbeker gewen het, 'n wedstryd tussen die Bokke en Wallis bygewoon het.

POLOKWANE – Gavin Nel was laas in 1995 op Ellispark waar hy kort na die Springbokke die Wêreldbeker gewen het, ‘n wedstryd tussen die Bokke en Wallis bygewoon het.

Verlede naweek het hy teruggekeer na Ellispark om die bokke teen Nieu-Seeland te sien speel.

Gavin het sowat R10 000 se pryse in die Review “You’re the Fan” kompetisie gewen. Twee kaartjies vir hierdie wedstryd was deel van sy pryse.

“Toe ek uitvind ek het gewen, was dit ongelooflik. Vir die eerste keer in my lewe het ek ingeskryf vir so iets en daar wen ek toe! Ek was sprakeloos,” het Gavin, wat nog altyd ‘n belang-stelling in rugby gehad het, gesê.

Gavin het as kind op skool rugby gespeel en het ook aan die Cravenweek deelgeneem. Na skool het hy vir die Polisieklub gespeel, maar sy werksomstandighede het dit vir hom moeilik gemaak om aan te hou speel. “Ek sou graag op provinsiale vlak wou speel, maar soms is dit net nie moontlik nie en mens verstaan dit dan,” het hy aan Review vertel.

Toe Gavin van die kompetisie hoor, het hy die kans aangegryp om weer ‘n Springbok-wedstryd te sien en dadelik ingeskryf.

“Ons het ongelooflike goeie kaartjies gehad; tussen die doellyn en die kwartlyn aan die oop kant van die stadion en net vier rye van voor af,” het hy verduidelik.

Gavin het ook vertel hoe hy en sy vrou, Lana, by hul seun in Pretoria oorgebly het en hom oorreed het om saam te ry tot by Ellispark. “Ek het gedink hy kan saamry en dalk die wedstryd in die biertuin kyk, of dalk is hulle gelukkig en kry iemand buite die stadion wat kaartjies verkoop.”

By Ellispark was daar ‘n man wat twee kaartjies te koop aangebied het en met die Nel-familie se geluk, het Gavin se seun twee kaartjies vir die sitplekke reg voor Gavin en Lana gekry.

“Die hele stadion was vol en hier kry hulle twee sitplekke reg voor ons!”

In 1995, het Gavin in ‘n ligte luim na die wedstryd na sy kar geloop, net om voor ‘n leë parkering te staan te kom. “Toe ek buite kom, is my kar gesteel!”

Volgens Gavin het soveel dinge in daardie area verander in die laaste 18 jaar.

“Die omgewing het baie agteruitgegaan. Mens voel so bietjie senuweeagtig, maar almal het dit probeer veilig en lekker maak,” het hy gesê.

Volgens Gavin, was die geesbou voor die wedstryd nie dieselfde as by Loftus nie. “Daar is nie regtig plek vir diegene wat wil braai en kuier vooraf nie, so mense het maar op die sypaadjies gestaan en kuier,” het hy verduidelik.

Hoe het hy die wedstryd gevind? “Dis jammer die Bokke het verloor, maar hulle het oor die algemeen goed gespeel. Mens sien baie ander dinge raak as mens langs die veld is; dinge wat mens nie op televisie raaksien nie,” het hy verduidelik.

Gavin het gevoel die Bokke se verdediging was nie soos wat dit moes wees nie en dat hulle te vinnig moed opgegee het. “Hulle het ‘n goeie eerste ronde gehad, maar het na so paar vinnige drieë moed opgegee.”

Gavin het die borge van You’re the Fan, Konica Minolta Suid-Afrika en Nguni Grill bedank vir die geleentheid wat vir hom gebied is.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button