Inniberg fees sorg vir groot vermaak
Op 31 Julie en 1 Augustus is die jaarlikse Inniberg Fees deur die CVO Zoutpansberg skool aangbied op hul skoolgronde.
LOUIS TRICHARDT – Op 31 Julie en 1 Augustus is die jaarlikse Inniberg Fees deur die CVO Zoutpansberg skool aangbied op hul skoolgronde.
Die fees was weereens ‘n reuse sukses met ‘n verskeidenheid pretritte vir die kinders, stalletjies van alle soorte en gaskunstenaars wat gesorg het vir vermaak.
Die Vrydag het die hekke reeds 12:00 die middag geopen. Daar was plaasdiere vir die kinders om na te kyk en die pretritte het vroeg al mamma en pappa se beursies leeg gemaak. Die nag het Kwaggabees die verhoog geopen vir die vermaak. Kort daarna het die Mej. Inniberg kompetisie plaasgevind. Na die afloop van die kompetisie het Armand Hofmeyr die verhoog aan die brand gedans en sing. Die Vrydagaand is afgesluit met Adam Tas se wonderlike optrede.
Saterdagoggend om 08:00 het die hekke reeds oopgemaak. Net na die hekke oopgemaak is was daar ‘n vertoning deur die polisiediens se honde-afdeling saam met Anton Jongbloed. Daarna kon die feesgangers ‘n hondeskou bywoon wat deur Nada’s Ark gereël is.
Die middagvermaak het vroeg begin met gaskunstenaars soos Nolene, Megan, Chanté en Chandré en Errad. Kwaggabees was vroegaand op die verhoog met hul laaste optrede. Die mooiste stalletjie is ook in hierdie tyd aangekondig. Die mooiste stalletjie vir die dag was Mood Zwings, tweedemooiste was Snipers en derdemooiste is deur Audio Sat opgeraap. Kort daarna het die tent begin vol raak met aanhangers van die bekende NRG. Dis duidelik dat die groep van drie mans baie aanhangers het, veral onder die jonger garde. Meisies en seuns het voor die verhoog gestaan om die groep te sien sing. Hulle het vir groot vermaak gesorg en die feesgangers het die groep NRG inderdaad geniet.
Die hoogtepunt van die skou en die laaste optrede vir die aand was die bekende Karlien van Jaarsveld. Sy het behoorlik die monde laat oophang toe sy begin sing. Van klein tot groot het elke liedjie saam met haar gesing.
Na die vertoning van Karlien van Jaarsveld is die meeste fees-gangers na die biertuin waar Armand Hofmeyr gesorg het vir die res van die aand se vermaak.








