Imke Geldenhuys stap oor hemel toe

Die klein meisie met die groot veggees, Imke Geldenhuys, is gister in Amerika in haar pa se arms oorlede. Darius en Ilona, haar ouers, het bevestig dat die vierjarige Imke wou ‘huis toe’ gaan. Die gesin is van Tzaneen. Imke is in Februarie 2016 met fase vier neuroblastoomkanker gediagnoseer. Dit is ‘n hoërisikogewas wat hoofsaaklik …

Die klein meisie met die groot veggees, Imke Geldenhuys, is gister in Amerika in haar pa se arms oorlede.
Darius en Ilona, haar ouers, het bevestig dat die vierjarige Imke wou ‘huis toe’ gaan. Die gesin is van Tzaneen.
Imke is in Februarie 2016 met fase vier neuroblastoomkanker gediagnoseer. Dit is ‘n hoërisikogewas wat hoofsaaklik in die byniere of senuweeselle van kinders, meestal jonger as vyf, ontwikkel en deur die res van hul weefsel versprei.
Danksy beriggewing in verskeie gemeenskapskoerante en sosiale media het die vegtertjie wat as ‘Warrior Imke’ bekend gestaan het, mense in Limpopo geïnspireer om geldinsamelinginisiatiewe te loods sodat sy in Amerika volgens haar pa onder meer hemoterapie kon ondergaan om haar kans op moontlike herstel te verbeter. “Hoewel Suid-Afrika van die beste spesialiste en onkoloë het, is haar kans oorsee net beter,” het hy gesê. Sowat R10 miljoen was egter slegs vir die aanvanklike behandeling nodig wat enkele dae voor haar vertrek ingesamel is.
In September verlede jaar is die gesin met Imke en haar jonger tweelingsussies, Anebelle en Zielke, na New York toe waar ‘n span spesialiste verbonde aan die Memorial Sloan Kettering Kankersentrum alles binne hul vermoë gedoen om Imke, wat ook diep in húl harte gekruip het, se lewe te red. Sy het verskeie behandelings en operasies ondergaan, maar mettertyd verswak en die laaste tyd baie pyn gehad, hoewel daar opflikkerings was.
‘n Gebedsweermag onder die vaandel van ‘Gebede vir Imke’ het haar, haar ouers en familie tot aan die einde in gebede gedra.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button