Maatskaplike werkers kry erkenning op internasionale dag
Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Polokwane het Dinsdag internasionale Maatskaplikewerkdag gevier met koek en tee, en die geleentheid geneem om vir die maatskaplike werkers in hulle organisasie te sê dat hulle waardeer word. Drie maatskaplike werkers is tans in diens by die federasie. Serena McLaren en Willemiena Matsaung werk by Martha Hofmeyr Tehuis en Vergeet …

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Polokwane het Dinsdag internasionale Maatskaplikewerkdag gevier met koek en tee, en die geleentheid geneem om vir die maatskaplike werkers in hulle organisasie te sê dat hulle waardeer word.
Drie maatskaplike werkers is tans in diens by die federasie. Serena McLaren en Willemiena Matsaung werk by Martha Hofmeyr Tehuis en Vergeet My Nie Behuising terwyl Sonja White die gesinsorg maatskaplike werker is. Matsaung en White kon nie die geleentheid bywoon weens hul werksverpligtinge nie.
Dawie Lee, bestuurder van die SAVF Polokwane het die personeel en inwoners van Martha Hofmeyr Tehuis en Vergeet My Nie Behuisingsentrum se waardering uitgespreek vir die goeie werk wat hulle doen. “Ons weet julle werk is nie altyd maklik nie en hierdie is net ‘n klein gebaar om te sê dat ons julle waardeer,” sê Lee.
McLaren, het namens die maatskaplike werkers haar dank uitgespreek. “Dit is goed om te weet dat ons werk raakgesien word en dit is baie belonend om met bejaardes te werk, veral as hulle lewenskwaliteit opsigtelik verbeter deur die werk wat ons met hulle doen. Ons het egter baie uitdagings. Baie reëls en regulasies belemmer partykeer ons werk. Daar is ook ‘n groot tekort aan hulpbronne. Die paar uur per dag wat ek het om met bejaardes te spandeer is nie genoeg nie.”
Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za



