Local newsNews

Standerton se Elra Tonkin-Biering verklap meer oor haarself

Met die sintuie en hande wat ingespan word, kan ruiters volgens haar, hul koördinasie ’n hupstoot gee.

Elra Tonkin-Biering klink na ’n mondvol, maar gemeet aaan haar prestasies by die afgelope saalperdkampioenskap, is dit ’n naam om te onthou.

Sy het met 27 linte huis toe gekeer waaronder 10 bloues, wat beteken dat 10 SA-kampioene afkomstig van haar stalle is.

Elra het ook voorheen ’n toekenning in ontvangs geneem toe sy as die beste perde-afrigter in Gauteng aangewys is.

Haar perdryskool, Elra Tonkin-Biering Equestria, uit op die Robbertdrift-pad, is reeds vir twee jaar bedrywig.

Sy het tydens die pandemie in 2020 na Standerton, vanaf Parys, verhuis.

Elra is geoefend daarin om die skoue by te woon met haar ruiters, enigiets van vier jaar oud tot ’n senior, slaggereed.

Tans ry 26 ruiters van regoor die land by die skool en meer as 40 perde word afgerig.

“Perdry is terapeuties en moedig ontwikkeling aan,” het sy gesê.

“As kinders goeie balans het, lees hulle ook baie goed.”

Met die sintuie en hande wat ingespan word, kan ruiters volgens haar, hul koördinasie ’n hupstoot gee.

“Die balans op ’n perd se rug, weerspieël in jou balans in die lewe.

“Net as jy dink jy is goed, dan val jy af en dan moet jy weer opstaan.”

Elra het aan Hoërskool John Vorster op Nigel gematrikuleer en was vasbeslote om ’n loopbaan van afrigting te maak.

“My ma wou gehad het dat ek ’n onderwyser word, maar my kop het perde toe gestaan.”

Haar perd, Nemo Gold Seal, het in haar matriekjaar met die louere by ’n skou weggestap na die aankondiging as perd van die jaar.

Elra het sowat 10 jaar gelede in die Amerikaanse deelstaat Washington DC, vir vyf jaar op ’n plaas gewerk.

Die vraag of daar merkbare verskille tussen Amerikaners en Suid-Afrikaners is wat perdry betref, is beantwoord deur na Suid-Afrikaners se deursettingsvermoë te verwys.

Elra Tonkin-Biering het met 27 linte huis toe gekeer na ’n nasionale saalperdkompetisie.

“Kinders speel in die winter kaalvoetrugby wat hul taaier maak.”

Elra het ook van die verskil in humorsin vertel.

“Jy kan lag as iemand in Suid-Afrika val en daarna gaan kyk of die ruiter seergekry het.

“In Amerika gaan jy nie sommer lag nie.”

Tussendeur het sy kursusse en simposia bygewoon en haar op hoogte gehou van wat in die bedryf aangaan.

Elra pronk ook oor haar status as ouma, drie kleinkinders uit die Lotz-gesin en ook drie uit die Tonkin-gesin.

Elra, haar dogter en haar man, Jabbies se kinders ry perd, terwyl haar seun, Junior en sy vrou Velia, se kinders nog klein is.

Ouma is vas oortuig dat hulle eendag gaan perdry.

Die kreatiwiteit by die benaming van perde het ook ter sprake gekom.

“Sommige perdetelers kies jaarliks ’n tema,” het Elra laat blyk.

“Ou bloedlyne word ook somtyds herhaal en gebeurtenisse word ook vir perde se name gebruik.”

Haar anekdote oor ‘Rocktober’ is een vir die boeke.

Elra en haar dogter het eendag op ’n plaas met ’n teler gepraat, wat ’n perd slagpale toe wou neem.

“Nee, hy is wild, as jy hom in die ‘horse box’ kan laai, kan jy hom kry,” het dié teler gesê.

Die dokumente vir die perd, ‘Rocktober’ is sommer op die bakkie se masjienkap geteken nadat die slagwaarde betaal is.

‘Rocktober’ is die naam wat Elra nog altyd geval het omdat vorige radiostasies destyds in Oktober ’rock’ gespeel het, en die program ‘Rocktober’ genoem het.

Dié hings was vier jaar oud toe hy as Suid-Afrikaanse Kampioen aangewys is.

Elra is ook ’n amptelike senior beoordelaar en behoort aan die Professionele Afrigtingsvereniging.

Sy het weliswaar al meer as een keer van ’n perd se rug geval, maar het geleer presies hoe om in die beweging te val.

Dié uitgesproke Christen se familiebande is heg, wat beteken dat hulle ook moue oprol as ouma skoue toe gaan.
Perde-afrigting is gewis in haar bloed.

Die kersie op die koek is dat sy een van twee afrigters van die Protea-span is, wat in Julie in die VSA, aan die Saddleseat World Cup gaan deelneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button