Kotie Esterhuyse laat leemte
Kotie was aktief tot sy dood en was ’n maat en raadgewer vir sy kinders en kleinkinders.
SECUNDA – Mnr. Kotie Esterhuyse (87) is op 25 Oktober aan speekselklierkanker dood en is op 31 Oktober vanuit die Rondekerk Secunda-gemeente begrawe.
Hy en sy vrou, me. Aletta Esterhuyse (81), het op 7 Junie hul 57ste huweliksherdenking gevier.
“Ons was soveel jare saam, dit is genade,” het me. Esterhuyse gesê.
Mnr. Esterhuyse was voor sy dood vir langer as ’n week in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Pretoria.
“Die groot genade is dat ons dogter wat in Katar gewoon het, pas terug in Suid-Afrika was voordat my man in die hospitaal opgeneem is.
“Bykans al ons kleinkinders was daar om hom te groet voordat hy dood is,” het me. Esterhuyse gesê.
Sy het mnr. Esterhuyse as ’n hardwerkende mens beskryf en het gesê hy was vir sy kinders en kleinkinders ’n maat en raadgewer.
“Hy was altyd daar vir hulle, selfs tydens sy siekte was hy baie geduldig en verdraagsaam,” het me. Esterhuyse gesê.
Mnr. Esterhuyse was aktief en het ’n week voordat hy in die hospitaal opgeneem is, nog gaan stap.
Hy het tot voor sy dood self op sy rekenaar gewerk en die egpaar het gereeld met die dogter in Katar, geskype.
Die egpaar het in die laaste agt jaar twee keer vir haar in Katar gaan kuier en mnr. Esterhuyse het toe nog op ’n vierwielmotorfiets en ’n waterponie gery.
Hy het ook op 86 nog sy bestuurderslisensie gaan hernu.
Mnr. Esterhuyse laat sy vrou, drie kinders en sewe kleinkinders na.