Trichardt-inwoners soek hul straatligte aan
Inwoners voel onveilig weens toename in huisbrake.
TRICHARDT – Inwoners van die Oaks-kompleks is reeds sedert Oktober sonder straatligte.
“Ons woon in ’n donker gat en voel saans onveilig.”
Dié kompleks is in Greystraat geleë en inwoners het gesê hulle is raadop oor die elektrisiteitskrisis wat nie deur die munisipaliteit opgelos word nie.
Volgens hulle was die munisipaliteit al verskeie kere by die kompleks om na die probleem te kyk, maar niks is opgelos nie.
Die probleem kom glo van die kragkas in Rapportryerstraat wat nie in stand gehou word nie.
Die herstelwerk aan lamppale, verfwerk, en tuindienste word self deur die kompleks se komiteelede gedoen.
Die straatligte was onlangs een keer aangeskakel en daarna het die probleem weer begin.
“Ons soek net ons ligte aan.”
Volgens mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, is hul elektrisiteitsafdeling bewus van die probleem.
Die munisipaliteit sal binnekort die kompleks besoek en ondersoek instel om die nodige herstelwerk te doen.
“Die buurt sukkel kort-kort met kragonderbrekings en ons elektrisiëns werk daaraan,” het mnr. Masango gesê.
Inwoners voel reeds onveilig omdat huisbrake in Trichardt die laaste tydperk toegeneem het.
Hulle het onlangs elektriese heinings rondom die kompleks opgerig om hul veiligheid op te knap.
“Alles kom uit ons eie sakke en ons verwag nie baie van die munisipaliteit nie,” het inwoners gesê.




