Tuisversorgers help waar hulle kan
Pasiënte wat aan kanker ly, kan nie altyd na hulself kyk nie.
SECUNDA – Me. Amelia Rammole, me. Lona Nteya, me. Wendy Lee Wricrley en me. Pretty Makhanja is tuisvorsorgers.
Hulle fokus op kankerlyers om seker te maak hulle kry die nodige behandeling wat nie altyd moontlik is nie weens ’n tekort aan geld.
Die vroue staan ook mense wat aan ander siektes ly en nie na hulself kan kyk nie, by.
Me. Shirley Coetzee het gesê: “Dié vroue het regtig goeie harte en help die gemeenskap waar hulle kan.
“Hulle is opgelei om na siek mense om te sien en maak seker dat hul pasiënte die nodige medikasie en genoeg kos kry om gesond te word.”
Volgens me. Coetzee sal hulle selfs ’n huis skoonmaak omdat hulle met mense werk wat nie vir hulself kan sorg nie.
Me. Rammole het vertel: “Ek werk vir die afgelope twee jaar as ’n tuisversorger en wil mense help om gesond te word.
“Dit is vir my belangrik om seker te maak hulle kry die nodige behandeling vir die gegewe siekte.”
Me. Nteya het gesê: “Dit is my passie om na siek mense te kyk en hulle te help waar ek kan, want dit is wat my gelukkig maak.”
Volgens me. Makhanja het sy as ’n tuisversorger in 2014 begin werk, terwyl me. Wricrley sedert 1999 ’n tuisversorger is en daarin geluk vind om siekes te versorg.
“My pa het kanker gehad en ek het vir hom gesorg, en dit is wanneer ek besluit het om ’n tuisversoger te word,” het me. Wricrley verel.
“Die Here is goed en gee my die nodige leiding om ander te help.”
Pasiënte wat aan kanker ly, kan nie altyd na hulself kyk nie.
Na ’n chemoterapiesessie, kan die pasiënt simptome soos moegheid, pyn en maagongesteldhede ondervind.
’n Tuisversorger is daar om hulle te help en te versorg.
”Dié vroue het gekies om hier te werk en dié werk te doen en dit is nodig dat die gemeenskap daarvan weet,” het me. Coetzee gesê.
“Hulle werk lang ure en bly soms by hul pasiënte totdat hulle weer op die voete is.
“Hulle is regtig mense om na op te kyk en het harte van goud.”



