Ses vrouestappers leer ‘Buen Camino’ sê
"Dis 'n reis soos geen ander nie en ons het onsself en mekaar soveel dieper leer ken."

Om 140 km in agt dae in ‘n geheuwelde gebied in aanhoudende reën te stap, is genoeg om enige vriendskap te beproef.
Dit was nie die geval vir die ses vroue van Ermelo wat nie veel meer as hul liefde vir lees gemeen het nie.
Alles het op ‘n dag by die leeskringgroep begin toe daar genoem is dat daar ‘n plek oop is vir iemand wat sou belangstel om die Camino de Santiago mee te maak.
Soos nie anders van die groep vroue met uiteenlopende geaardhede verwag kan word nie, is daar en dan sommer op ‘n nuwe groep stappers van ses besluit.
Chrisna van der Berg, Elria Steinberg, Lena van der Merwe, Christine Hugo, Elmarie Celliers en Lizelle Botha was reg vir dié uitdaging.
Die Camino de Santiago (Sint Jakobus se weg of Jakobsweg) is ‘n aantal pelgrimsroetes wat verskillende oorspronge oral Europa het en by die katedraal in Santiago de Compostela, Galicië (Spanje) eindig.
Die Jakobsweg is meer as ‘n duisend jaar oud en een van die belangrikste Christelike pelgrimstogte.
Die tog is oorspronklik by ‘n pelgrim se huis begin en hoewel sommiges dit steeds so onderneem, word dit vandag by enige van ‘n aantal tradisionele beginpunte oor Europa geïnisieer.
Die roete het in die ’80’s ‘n heroplewing beleef met pelgrims wat steeds van alle uithoeke van die wêreld kom om dié tog te voet, te perd of met ‘n fiets af te lê.
Die vroue se voorbereiding het byna ‘n jaar voor die tog begin met beplanning, navorsing en die stryd om stap-fiks te word.
Maar soos hulle dit beskryf, kon niks hulle werklik voorberei op die impak van die saamstap en die saambeleef van die
eenvoud en skoonheid van Spanje se afgesonderde platteland en woude nie.
“Dis ‘n reis soos geen ander nie en ons het onsself en mekaar soveel dieper leer ken.”
Elkeen het sy eie redes gehad om die tog mee te maak en vir sommige van die vroue was dit bloot ‘n nuwe avontuur.
Maar almal is dit eens dat daar tog tye op die tog was dat elkeen die wonder van God en Sy alomteenwoordigheid ervaar het.
Natuurlik is daar baie staaltjies te vertel en soos dit enige groep wat sy sout werd is, betaam, het die groep vroue nog nooit so baie gelag soos op die Camino nie.
Stories van onder meer die waarkuwings teen die Spaanse mans en die mooiste vrou in die groep wat met alle mag moes keer of sy moes van burgerskap verander, die onderonsie met ‘n driftige vioolspelertjie, die genot en vreugde wat hulle daaruit geput het om “Buen Camino” (goeie Camino vir jou / mooi loop) aan elke pelgrim wat hul sien, toe te wens en die uitdaging om aanwysings te vra van die plaaslike gemeenskap wat nie Engels magtig is nie, sal hulle altyd bybly.
Armbandjies, elk met ‘n skulpie (simboliek van lewe), hul pelgrimspaspoorte, aandenkings en Compostelas (sertifikaat in Latyn wat aan stappers gegee word wat ten minste 100 km te voet na Santiago de Compostela afgelê het,) sal hulle altyd herinner aan dié ongelooflike evaring en die voorreg om dit saam te kon beleef.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



