Local newsNews

Hettie Grey ontvang 60 jaar knopie vir toegewyde Vroue Landbou Unie lid

Een van haar hoogtepunte by die VLU was toe sy ’n Suid-Afrikaanse kompetisie gewen het met Perkamentkuns

Me. Hettie Grey is vanjaar reeds 60 jaar by die Vroue Landbou-Unie (VLU) betrokke.

Haar ma het haar op die ouderdom van 16 as lid van die Charl Cilliers VLU-tak ingeskryf.

Me. Grey was deel van dié tak tot in 1962 toe sy met mnr. Koos Grey, ’n boer van Morgenzon, getroud is en het ook op verskeie komitees in dié tak gedien.

Sy het daarna by die tak op Morgenzon aangesluit, maar weens ’n tekort aan lede het die tak tot ’n einde gekom.

Me. Grey het by die Sukkelaartak aangesluit waar sy vir 30 jaar betrokke was totdat ook dié tak in 2016 toegemaak het.

In haar tyd by die Sukkelaartak was me. Grey die ondervoorsitter, die voorsitter en het ook op die tak se raad gedien.

Volgens haar het sy baie geleer by die VLU wat sy andersins nie eers sou probeer het nie.

“Die VLU bevorder die groei van vrouwees en in ons jonger dae toe vroue nie gewerk het nie, het dit elkeen van ons gehelp en geleer hoe om dinge vir onsself te doen,” het me. Grey gesê.

Sy het ook vertel dat dit vir haar lekker was om deel van die VLU te wees omdat daar altyd iemand was wat kon help as jy vasgebrand het.

Een van haar hoogtepunte by die VLU was toe sy ’n Suid-Afrikaanse kompetisie gewen het met perkamentkuns.

Perkamentkuns is ’n fassinerende kreatiewe stokperdjie.

Deur verskillende tegnieke op perkamentpapier toe te pas, word daar pragtige groetekaartjies, boekmerke, lampskerms, muurversierings, realistiese blomme, bokse en ander projekte maak.

Me. Grey geniet kruissteekwerk, borduurwerk en het ook ’n oog vir verfwerk.

As deel van die Sukkelaartak, was sy ook by ’n tassieprojek betrokke waartydens die VLU skooltasse met benodigdhede aan ’n laerskool op Bethal geskenk het.

“Ek het altyd probeer om alles te doen en dit wat ek nie kon doen nie, het ek geleer hoe om te doen.”

Sy het laggend vertel dat houtwerk bykans die enigste vaardigheid is wat sy nog nooit gedoen het nie.

Volgens haar geniet sy dit om met suurdeeg te bak, maar koek bak is nie sommer vir haar nie.

By die laaste vergadering van die VLU Millenniumtak waar sy in 2017 aangesluit het, het sy die lede gewys hoe om versiersuikerblomme te maak.

“Dis ’n baie lekkerder gevoel om so iets self te kan doen as wat jy ander moet betaal om dit vir jou te laat doen.”

Me. Grey het vertel dat dit belangrik is vir jong vroue om by die VLU aan te sluit om alledaagse vaardighede aan te leer soos koek bak en inlê.

Sy het bygevoeg dat sy verstaan dat vroue van vandag nie altyd tyd het om die vergaderings by te woon en artikels te maak nie omdat die lewe so duur geword het en ’n vrou ook moet werk.

Sy en haar man sal vanjaar 56 jaar getroud wees en haar geheim vir ’n gelukkige huwelik is om altyd saam te werk en mekaar te help.

Haar raad aan alle VLU-lede is om altyd aan die kompetisie wanneer dit moontlik is, deel te neem.

“Dit is waar jy die meeste leer en jouself verbeter. Jy as lid moet aktief deelneem aan alle aktiwiteite en nie terugstaan nie. ”

Related Articles

Back to top button