Local newsNews

#SophiaVanDerMerwe: ’n Ma van vyf seuns op Trichardt het onlangs ’n tweede breinoperasie ondergaan

Wat oorspronklik ’n taamlike eenvoudige prosedure sou wees, het egter in ’n vyf uur-lange operasie ontaard en was me. Van der Merwe heelwat langer in die hospitaal as beplan.

TRICHARDT – Om skielik reg te staan vir vyf vreemde kinders tussen 17 jaar en doekdra, is nie so ’n reuse taak wanneer dit die vyf Van der Merwe-seuns is nie.

Só meen me. Ronel Sadie wat twee weke gelede die voortou geneem het om ’n mede-gemeentelid se kroos te versorg terwyl hul ma, me. Sophia van der Merwe, ’n dringende breinoperasie in Witbank Hospitaal moes ondergaan.

Wat oorspronklik ’n taamlike eenvoudige prosedure sou wees, het egter in ’n vyf uur-lange operasie ontaard en was me. Van der Merwe heelwat langer in die hospitaal as beplan.

“Die seuns het die mooiste maniere en hulle is baie goed opgevoed. Hulle het dadelik in my hart ingekruip,” het me. Sadie verlede Woensdag vertel toe sy en haar regterhand, me. Sarah Cindy, by die kinders gaan kuier het.

Me. Van der Merwe is vol lof en dank teenoor die Sadies en die gemeenskap wat hulle so goed ondersteun het.

Dit is nie ’n geheim dat die Van der Merwes dit nie breed het nie. Me. Van der Merwe is ’n kinderoppasser wat ’n paar kindertjies by haar huis oppas en haar man, Gerhard is ’n gewapende reaksie-offisier.

Hulle het nie ’n voertuig nie en kan nie luukshede bekostig nie, maar hul huis is vol liefde.

Hul seuns Jean (17), Ruan (12), Luhandré (8), Divan (3) en Regard (agt maande) is vir hulle alles in die lewe.

Die kinders is baie geheg aan hul ouers en mekaar. Daarom was dit vir hulle net so moeilik toe Ma skielik hospitaal toe moes gaan.

“Ek word rerig nooit siek nie. Selfs my swangerskappe en kraam was moeiteloos,” het me. Van der Merwe verduidelik.

Hierdie onlangse operasie is die tweede in haar lewe. Sy het in 1998 by die dood omgedraai toe ’n gewas die grootte van ’n gholfbal uit die derde ventrikel in haar brein verwyder is.

“Die neurochirurg het destyds in Bloemfontein gedink ek nie sou oorleef nie. Maar deur Genade is ek gered. Die dokter het toe ’n dreineringspyp ingeplant om die vog op die brein onder beheer te kry.”

Me. Van der Merwe het in Julie weer geweldige hoofpyne ondervind en haar sig is belemmer. Die gesin is van staatsdienste afhanklik.

Me. Van der Merwe is eers kliniek toe, waarna sy na Ermelo gestuur is, en is uiteindelik in Witbank Hospitaal deur ’n spesialis ondersoek wat besluit het om die dreineringspypie te vervang.

Toe sy egter onder die mes kom, het die chirurg nog ’n gewas gevind. Die was hierdie keer so groot soos ’n albaster.

Die N.G. Kerk op Trichardt se herderspaar, verskeie gemeentelede en ook ander kerke het ingespring om mnr. Van der Merwe met die seuns te help.

“Die dag voor ek Witbank toe moes gaan, het ek behoorlik vir Ronel onder kruisverhoor gehad om seker te maak my kinders sal versorg en veilig wees, min wetende dat hulle sommer heelwat langer by haar sou wees. Al wat ek kan sê is dankie.”

Me. Van der Merwe was vir ’n paar dae in die waakeenheid.

Sy is reeds weer tuis en sit nie stil nie wat vermoedelik die oorsaak is dat die nuwe dreineringspyp wat van haar kop na haar maag strek, moontlik by die maag losgetrek het.

“Ek kan nie bekostig om stil te sit nie. Daar is net te veel om te doen.”

Die Van der Merwes het ’n brief geskryf om mense te bedank: Drs. Mapunda en Mkhonza, Ronel en Jaco Sadie, Michelle du Preez, Dirk en Erda van Zyl, Riaana Venter, Theunis de Klerk, Sonet Beukes, Reinette Hugo, Sarah Cindy, Barbara Auckamp, Rizanne Louw, ds. Coen Sutton, Hoërskool Secunda, Laerskool Trichardt, die ATKV en Rondekerk vir die kospakkies, die Hervormde Kerk op Trichardt en almal wat voorbidding gedoen het.

Me. Sophia van der Merwe net na haar operasie. (Foto verskaf)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button