Dis tyd vir Laerskool Secunda se inniPark Fees
Refentse, Leah, Die Campbells en die gospelsanger, Dewald Gouws, gaan die gehoor vermaak Saterdag, 25 Augustus by Laerskool Secunda se inniPark Fees.

SECUNDA – Refentse, Leah, Die Campbells en die gospelsanger, Dewald Gouws, gaan die gehoor vermaak Saterdag, 25 Augustus by Laerskool Secunda se inniPark Fees.
Dit is dié skool se vierde inniPark Fees en volgens me. Lizelle Pieters, Laerskool Secunda se skakelbeampte, het sowat 4 000 mense die fees verlede jaar bygewoon.
“Die fees het ’n bekende gebeurtenis op Secunda geword waarna inwoners van die Hoëveld nou jaarliks uitsien,” het me. Pieters gesê.
Die fees spog jaarliks met sowat 70 stalletjies waar feesgangers unieke Suid-Afrikaanse produkte en geskenke kan koop.
Daar is steeds uitstalruimte teen R400 beskikbaar en ondernemings kan tydens die fees as borge optree en blootstelling in die gemeenskap kry.
Kaartjies kos R80 per volwassene, R50 per hoërskoolleerder, R30 per laerskoolleerder en R50 per pensionaris.
Vir die jongspan sal daar ook vermaak wees in die vorm van Tjiff en Tjaff wat daar gaan kuier asook springkastele, ’n fietswedren en ’n Mnr. en Mej. Fees.
Vir meer inligting, skakel die skool by 017 634 7612 of stuur ’n e-pos na skakel@secundalaer.co.za of besoek die fees se Facebook-blad by inniPark Fees.








