Local newsNews

Oudleerder van Ermelo Hoërskool is Top 25 finalis in Mev. Suid-Afrik-kompetisie

Deur die platform wat die Mev. Suid-Afrika-kompetisie vir haar bied, wil me. Jani Cronjé graag haar veldtog, Wat is Liefde, op ’n nasionale vlak plaas aanbied waartydens sy werkwinkels vir vroue, paartjies en eggenote gee.

Me. Jani Cronjé, ’n oudleerder van Hoërskool Ermelo, is onlangs by Emperors Palace aangekondig as een van die Tammy Taylor Mev. Suid-Afrika se top 25 finaliste vir 2018.

Sy het vertel dat die oomblik toe haar naam genoem is as deel van die top 25 vir haar ’n oomblik van bevestiging was dat God haar nooit sal teleurstel nie.

“Ek het geweet dit is die rede waarom God dié begeerte in my hart laat brand en waarom ek ingeskryf het, want ek is Sy instrument,” het me. Cronjé gesê.

Sy het haarself as bevoorreg beskryf om haar laerskoolonderrig van haar ma, me. Marinda Steenkamp, te kon kry. Sy het vertel dat haar ouers in die posisie was om vir hulle ’n skool op die plaas te kon bou.

Sy het laggend bygevoeg dat hulle self hul eie skoollied en skoolklere gehad het.

“En wees gewaarsku, as jy nie om 8vm in die skoolsaal was nie, was pakslae jou voorland. Ek kan nog onthou hoe ek en my broer sommige oggende voor skool die beeste gaan haal het, elkeen op sy eie perd se rug.”

Me. Cronjé het haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Ermelo in 2010 voltooi, waar sy ook in Nelstehuis-koshuis was.

Volgens haar was haar grootste eer as hoërskoolleerder om as hoofmeisie in matriek te kon dien.

Me. Jani Cronjé is onlangs by Emperors Palace aangewys as een van die top 25 finaliste in die Tammy Taylor Mev. Suid-Afrika-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Sy het na skool haar eerste jaar as ’n dramastudent afgeskop, maar na slegs ses maande haar ouers gebel en gesê dat sy ernstig aan haar toekoms wil begin werk.

Sy het in Julie 2011 oorgeskakel na BComm Regte wat sy in 2014 voltooi het.

Me. Cronjé is ook ’n voorkomskonsultant, grimeerkunstenaar en stilis. Sy en haar man, mnr. Petri Cronjé, is in Maart 2015 op Plettenbergbaai getroud.

Sy het hom as haar branderplankinstrukteur ontmoet nadat haar pa hulle aan mekaar voorgestel het. “Hy is my grootste avontuur en beste geskenk. Ek hou daarvan om te dink dat ons ’n ‘power-couple’ is.”

Hoewel sy voorheen modelwerk vermy het oor die stigma rondom skoonheidskompetisies, het sy later besef dat dié begeerte in haar warmer brand en dat ander mense se mening oor haar nie tel nie.

Sy het besef dat dit van haar afhang om haar drome te bewaarheid.

Deur die platform wat die Mev. Suid-Afrika-kompetisie vir haar bied, wil sy graag haar veldtog, Wat is Liefde, op ’n nasionale vlak plaas waar sy werkwinkels vir vroue, paartjies en eggenote aanbied.

“Ek wil vroue bemoedig deur middel van grimeerlesse en sessies waar ek hulle touwys maak hoe om hulself stylvol te klee en hulle te wys hoe om hul kurwes te vier en te vlei.”

Sy wil ook probeer om haar veldtog na skole toe te neem om dogters op te voed oor hoe om hulself mooi en elegant te klee, te grimeer en hulle basiese etiket te leer.

Me. Cronjé moedig elke vrou aan om hulself te wees sonder enige vrees en om hul drome vreesloos na te jaag. Sy het ’n beroep op haar gemeenskap gedoen om haar te ondersteun en te help om haar grootste droom te bewaarheid.

Om vir haar te stem as die volgende Mev. Suid-Afrika, stuur ’n SMS na 35959 met die woorde ‘SABC 3 Jani Cronje’. Die Tammy Taylor Mev. Suid-Afrika-kronings-aand vind Vrydag, 9 November by Emperors Palace plaas.

Volg me. Cronjé se reis en leer haar ken op Instagram by @janicronje.sa of op Facebook by @JaniCronje SA.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button