Familie van Secunda-baba word deur gebed bemoedig
Klein Zellie van der Bank veg dapper voort teen aanvalle en glimlag altyd.
Anzelle van der Bank (15 maande) se ouers, Andries en Amanda, is raadop en moedeloos, maar hulle glo in die krag van gebed.
Zellie, soos haar familie haar noem, het al ’n magdom mediese toetse ondergaan en is gereeld in die hospitaal terwyl die medici probeer uitvind wat alles fout is.
Sy is op 26 Mei 2022 op 37 weke tydens ’n noodkeiser gebore en het vir die eerste vier minute van haar lewe nie asemgehaal nie.
Haar ouers was verlig toe sy wel begin huil en asemhaal het. Haar hartklop was onreëlmatig en sy moes vir ’n paar ure eers aan monitors gekoppel wees voordat sy na ma in die kamer kon gaan.
Hulle is drie dae later huis toe. Anzelle se tannie, Lorinda Viljoen, het haar as ’n sprankelende glimlag-dogtertjie van die begin af beskryf.

Die familie het bekommerd begin raak toe die kleinding op ses maande nog nie self begin regop sit het nie.
Toe Zellie egter op agt maande steeds nie kon sit nie, het Amanda haar na ’n kinderarts op Trichardt geneem. Die baba was ook baie klein en wou soms nie eet nie. Bloedtoese en ’n brein-skandering het egter niks vreemds uitgewys nie.
“Sy het egter al hoe meer begin lê en kon nie self regop sit nie,” het Viljoen gesê.
Die volgende stap was eers ’n arbeidsterapeut en later ’n fisioterapeut om Zellie se spiere te versterk. Haar ouers het getrou die fisioterapeut se voorgestelde oefeninge tuis met haar gedoen.
Hulle het einde Augustus verlede jaar besluit om haar vir ’n MRI-skandering te neem waar hulle agtergekom het haar brein groei skeef en is kleiner as normaal.

Die dokter het Zellie na ’n endokrinoloog verwys wat na haar hormoonvlakke gekyk het. Die endokrinoloog het vermoed Zellie het gedeeltelike Noonan-sindroom, ’n toestand wat die tipiese ontwikkeling in verskeie dele van die liggaam belemmer.
Dit beïnvloed ’n persoon op verskeie maniere wat ongewone gesigsgelaatstrekke insluit, asook eetversteurings, kort hoogte, hartprobleme en ander fisiese probleme soos om stadiger te leer loop, sit of staan.
Zellie is na ’n dokter vewys wat werk met genetika, mikro-biologie en biochemie wat presies vir die gesin sal kan sê tot watter graad sy die sindroom het, maar die gesin kon nog nie ’n afspraak by dié dokter kry nie.
Toe begin die stuipe.
Zellie het op 8 November vir die eerste keer ’n aanval, wat soos ’n epileptiese aanval gelyk het, gekry en het bloed opgegooi.

Haar ouers het haar na die Mediclinic Highveld gehaas omdat sy na die aanval nie wou wakker word nie.
Nog toetse en ’n EKG is gedoen, maar dokters het steeds kop gekrap. Nog aanvalle, sommer vyf op een dag, het gevolg.
“Haar arme lyfie was pap en sy was moeg, swak en huilerig,” het Viljoen gesê.
Dokters het toe vermoed die vriendelike blonde koppie ly aan epilepsie, maar kon nog nie sê watter soort epilepsie en hoe ernstig nie.
Hulle het vir haar medisyne vir epilepsie gegee om die aanvalle te verminder. Andries en Amanda se volgende stap was om haar so vinnig as moontlik by ’n neuroloog te kry, maar die vroegste afspraak wat hulle kon kry, was eers vir 11 Desember.
LEES OOK: Two neglected horses from Bronkhorstspruit are now strong and vibrant
Hulle het toe ook na ’n neurochirurg uitgereik om te hoor of hy hulle in die regte rigting kon wys. Dié neurochirurg by die Pretoria-Oos Netcare Hospitaal het hulle op 29 November sonder enige afspraak of betaling gehelp.
Hy het ’n DTI-skandering en ’n 24 uur-lange EEG voorgestel om aktiwiteit en watervloei in die brein te monitor.
Dié dokter het die uitslae na ’n spesialis in België gestuur. Hy het ook aanbeveel dat hulle steeds die neuroloog ook gaan sien.
Die neuroloog het weer verskeie toetse wat bloedtoetse en ystervlaktoetse insluit, gedoen. ’n Opvolg-afspraak is vir 1 Februarie gemaak.
Intussen het die neurochirurg laat weet die Belgiese spesialis het terugvoer gegee. Die paartjie het op 1 Februarie sommer beide die neuroloog en neurochirurg in Pretoria gaan sien.
“Vanaf Desember to Februarie het Zellie geen aanvalle gekry nie en sy was rustig,” het Viljoen vertel.
Volgens die dokter van België was daar nie breinskade nie, maar Zellie se skedel is te groot. Hy het aanbeveel dat hulle genetiese toetse op Zellie moet laat doen. Die neuroloog het bevind dat haar rooibloedselle groter is as normaal.
Sy het gesê dit kan een van die oorsake van die aanvalle wees. Zellie het ’n ysteraanvulling gekry en haar medikasie is versterk.
Zellie se foliensuurvlakke is ook nie reg nie en haar lewer is effens vergroot. Vier dae later moes die gesin weer Pretoria toe vir bloedtoetse om Zellie se foliensuurvlak, NH4-vlak en Vitamien B12-vlak te bepaal.
Dinge het vir ’n kort rukkie tuis goed gegaan met Zellie totdat haar ouers op 29 Februarie die ambulans geskakel het om haar te kom haal nadat sy 28 aanvalle in vyf dae gekry het.
Die kleinding het medikasie gekry om te kalmeer en is na die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorgeplaas. Hiér is Zellie op ’n drip gesit, maar terwyl hulle die drip aangesit het, het sy nóg ’n aanval gekry.

Sy is in die intensiewe sorg-eenheid vir baba’s opgeneem en het in nege minute se tyd nóg sewe aanvalle gekry.
Die laaste aanval was so erg dat haar bene, voete en gesig blou begin raak het. Haar dokter het die genetikus genader om genetiese toetse te doen. Hy wou ook weer ’n 24 uur EEG doen.
Die uitslae van die genetiese toetse neem drie tot ses weke om te kom, omdat dit na Amerika gestuur word om daar in diepte ontleed te word. Dié uitslae sal egter ’n 96% akkurate diagnose kan gee.
’n Vollyf-skandering het opgetel dat Zellie baie vog in haar kop het wat drukking veroorsaak. ’n Dreineringspypie is tussen haar vel en skedel ingesit om die vog te verminder.
Zellie moes ook voedingspypies deur haar neus kry en haar hande en voete moes vasgebind word sodat sy nie die pype uithaal nie.
“Die EEG het opgetel dat sy nie net sigbare aanvalle kry nie, maar ook stille aanvalle wat ons nie kan sien nie,” het Viljoen gesê.
Zellie is op 6 Maart ontslaan en dinge het weer eens vir ’n paar dae goed gegaan totdat sy weer aanvalle begin kry het en ook ’n uitslag op haar lyf.
Die dokters vermoed dit is deur medikasie veroorsaak. Skaars ’n week later was Zellie weer terug na die Mediclinic Highveld. Die dokters het vermoed sy het ’n virus opgetel wat haar lewer aanval.
Sy is ook met Hand-Voet-en Mond-siekte gediagnoseer. Beide dié toestande het weer eens ’n reuse klomp oorvalle veroorsaak en is klein Zellie weer in die Wilgers Hospitaal opgeneem.
Bloedtoetse het getoon dat Zellie se liggaam teen die medikasie baklei en dat haar maag verstop was.
Dit het ’n infeksie in haar derms begin.
Sy het weer ’n voedingspypie gekry en suurstof om haar ’n hupstoot te gee as sy weer aanvalle kry.
Dokters het met Andries en Amanda gepraat oor die moontlikheid om ’n gastrostomie vir Zellie in te sit, wat die toediening van haar medikasie sou vergemaklik.
Nog aanvalle het gevolg – soms minute lank op kort na mekaar. Sy moes ’n drip deur haar lies kry sodat sy binneaarse medikasie kon kry.
Die dokter het ’n stent om met voeding te help en ’n poort vir binneaarse medikasie medikasie voorgestel.
“Die dokter het gesê daar is nog ’n baie lang pad wat voor ons lê, maar hulle doen alles moontlik om haar gemaklik te hou en om vir haar die beste sorg te gee wat hulle kan,” het Viljoen gesê.
“Zellie is die sterkste klein meisiekind wat ons nog ooit gesien het.
“Sy glimlag deur alles en bly haar sprankelende self. Sy het Jesus se sagte manier van al die seerkry en marteling vat, want sy het ’n doel op hierdie aarde.”
Die gesin het die mense wat reeds donasies gegee het en hulle finansieël ondersteun het, bedank.
“Ons waardeer elke donasie en elke gebed,” het Viljoen gesê.
Belangstellendes wat die gesin wil ondersteun, kan ’n WhatsApp-boodskap na Viljoen stuur op 061 538 1188.



