Standerton Hoërskool hou gesprek oor boelie-gedrag
Willem Engelbrecht het Hoërskool Standerton besoek om ouers en leerders meer te vertel van boelies.
Skole vandag sukkel steeds met die eeu-oue probleem van boelies op die skoolgronde, maar deesdae het die probleem deur middel van kuber afknouery ’n nuwe vorm gekry.
Daarom het Standerton Hoërskool die inisiatief geneem om ’n gesprek op die skoolgronde, sowel as tussen ouers te begin.
Op 23 Oktober het Willem Isak Engelbrecht die SHS besoek met die doel om onkundigheid rondom die moeilike onderwerp uit te roei.
Die aand is deur skoolhoof, Pierre Marais afgeskop.
“Ons doelwit is om kinders te bemagtig om wat okal na hulle kant toe kom te kan hanteer,” het Marais gesê.
Daarna het Engelbrecht die verhoog grapperig betree. Hy is die broer van die Suid-Afrikaanse sanger, Jo Black.
“Ek spot altyd en sê ek kort ook ’n verhoog naam, iets soos Wit Willem om by my broer in te skakel,” het Engelbrecht geopen.
Volgens Engelbrecht het hy ondervinding in albei rolle van boelie en slagoffer. Hy het ook tyd bestee as ’n jeugwerker by skole, waar hy ondervinding as volwassene in boelie situasies opgedoen het.
Engelbrecht het verduidelik hoe norms in boelie situasies verruil het sedert sosiale media jong mense se lewens begin oorheers het.
“Ons word deur middel van sosiale media en blootstelling gekondisioneer om die slegte uitkomste eerste te verwag,” het hy verduidelik.
Engelbrecht se toespraak het hoofsaaklik gefokus op boelie onder seuns. Hy het in diepte verduidelik hoe rehabillitasie hierdie seuns kan bevoordeel en die boelie pandemie drasties verbeter.
“Die geheim is om saam met die kinders te werk om hul eie waardigheid te herstel,” het Engelbrecht gesê.
Hy is van die mening dat jou karakter jou toekoms bepaal, en dit nooit te laat is om jou karakter te verbeter nie.
Hoewel boeliegedrag ’n groot probleem in skole is, het Engelbrecht die verskil tussen boelie en portuurkonflik duidelik gemaak.
In gevalle waar ’n kind geboelie word, word die konflik situasie algemeen herhaal en is dit opsetlik; gewoonlik het hierdie soort konflik ’n wanbalans van krag.
LEES OOK: Extortion troubles Rayton and Cullinan’s business owners
Portuurgroep konflik vind af en toe plaas tussen kinders met gelyke mag, albei partye is ontsteld en die konfliksituasie kan maklik opgelos word.
Boelie gevalle kan wel steeds in portuurgroepe plaasvind.
“Soms word kinders in hulle eie vriendegroepe sleggesê of uitgevries, en daarvoor kan ek net sê dat as jou vriende nie jou waarde sien nie, verlaat die groep,” het Engelbrecht verduidelik.
Hy het ’n toep ontwikkel waar leerders boelie gevalle anoniem kan aanmeld, genaamd Heroes Anonymous.
Die toep help ook skole om beter boek te hou oor konflik situasies op hul skoolgronde. Engelbrecht het die toep vir SHS vir ’n jaar gratis aangebied.
“Saam kan ons ons kinders help om pro-aktief hulle lewens terug te vat,” het Engelbrecht afgesluit.
LEES OOK: Illegal dog hunting worries farmers in Eloff and Welbekend areas



