John maak skonskip op atletiekveld
Meestersatleet van Bethal palm medaljes in by twee kampioenskappe.
BETHAL – Meestersatleet John Aspeling (65) het in Maart behoorlik uitgeblink en by die Sentrale Gauteng Meesters Atletiekkampioenskap in Germiston vier goue en twee brons medaljes ingepalm.
Hy het goue medaljes vir Griekse werpskyf, spiesgooi, gewigstoot en werpskyf gekry en brons medaljes vir hammegooi en massagooi.
Aspeling het, net ’n week later in Maart, aan die Gauteng Noord Meesters Atletiekkampioenskap by die Pilditch stadion in Pretoria deelgeneem, en weer eens die medaljes ingepalm.
Hiér het Aspeling aan die vyfkamp deelgeneem wat uit vyf items bestaan en goue medaljes vir spiesgooi, Griekse skyfwerp, gewigstoot en skyfwerp verower.
Aspeling slyp nou sy tande vir die Wêreld Meesters Atletiekkampioenskap wat in September en Oktober in Suid-Korea plaasvind.
Hy het vir Annette Swart en almal wat hom ondersteun het, in die besonder die bejaardes van die Palmoord Leefstyl Sentrum vir Bejaardes Ouetehuis waar hy woon, bedank.
Hy het ook die personeel en bestuur van Hoërskool Hoogenhout waar hy oefen, bedank.




