Inwoners voel onveilig na rooftog by ouetehuis op Bethal
Egpaar oorval, man vasgebind.
Twee bejaardes is op 13 Mei by Residentia Palm-Oord Ouetehuis beroof.
Die egpaar was omstreeks 20:00 dié aand in hul huis toe die booswigte by die motorhuis ingebreek en toegang verkry het.
Die rowers het die man glo in die kamer vasgebind en die vrou deur die huis geneem terwyl hulle gebuit het wat hulle wou hê.
Hulle het dié bejaarde inwoners se skootrekenaar, selfone en geld gesteel. Die vrou het haar buurvrou se selfoon gebruik om die polisie te skakel.
Volgens inwoners van dié ouetehuis is dit nie die eerste voorval nie en is hulle bekommerd oor hul veiligheid.
Daar is glo in Februarie by ’n gebou wat as die Dementia-huis bekendstaan, omdat daar eens op ’n tyd inwoners met demensie gewoon het, ingebreek.
LEES OOK: eMbalenhle farmers raise concerns over stock theft
Volgens ’n inwoner wat anoniem wil bly, is die elektriese drade toe geknip en eers twee weke later herstel.
Die glasdeure na die onthaalsaal kan glo nie sluit nie en enige iemand kan daar ingaan en toegang tot die ouetehuis verkry.
Volgens dié inwoner is die palissades ná ’n vorige inbraak net met draad reggemaak.
“Hoe is ons veilig hier?” het die inwoner gevra.
Dié inwoner voel bestuur sleep hul voete om sekuriteit op te skerp en gee nie antwoorde wanneer inwoners of hul kinders vrae vra nie.
LEES OOK: Teenage kidney patient from Sakhile finds hope after community response
Die Ridge Times het die bestuur van Residentia Palm-Oord Ouetehuis vir kommentaar oor die jongste voorval gevra, en Gerdus Human, hoof finansiële beampte, het gesê hy kan bevestig dat daar op 13 Mei ’n voorval was.
“Die veiligheid en welstand van ons inwoners bly vir Residentia ’n prioriteit,” het Human gesê.
“Ons kan bevestig dat die misdadigers, ten spyte van bestaande sekuriteitsmaatreëls, onregmatig toegang tot die perseel verkry het.
“Sekuriteits- en voorsorgmaatreëls word voortdurend geëvalueer. Die saak is by die polisie aangemeld.
“Ons kan bevestig dat daar geen ernstige beserings opgedoen is nie. Die voorval word tans ondersoek en Residentia is in gesprek met die betrokke rolspelers.
“Omdat die ondersoek nog aan die gang is, sal geen verdere kommentaar tans gelewer word nie,” het Human afgesluit.



