Local sportSchool sportSport

Leoni oefen vir Warrior-resies

SECUNDA – Leoni Roux (25), ‘n onderwyser by Hoërskool Evander High School, hou van ‘n uitdaging en kan nie stilsit nie. Sy is vanjaar vir die Suid-Afrikaanse Hokkie Distrikspan gekies en het in Augustus saam met dié span na Port Elizabeth getoer. Sy het voorheen vir Mpumalanga en vir die Sasol Hokkieklub gespeel, maar sy …

SECUNDA – Leoni Roux (25), ‘n onderwyser by Hoërskool Evander High School, hou van ‘n uitdaging en kan nie stilsit nie.

Sy is vanjaar vir die Suid-Afrikaanse Hokkie Distrikspan gekies en het in Augustus saam met dié span na Port Elizabeth getoer.

Sy het voorheen vir Mpumalanga en vir die Sasol Hokkieklub gespeel, maar sy speel tans vir die Outdoor Old Bends-hokkiespan in Gauteng.

Dié span se afrigter is me. Alice Cadman.

“Sy is ‘n ongelooflike afrigter en het my baie gehelp,” het Roux gesê.

Dié jong hokkiespeler begin binnekort met ‘n binnenshuise hokkieliga.

As sy nie hokkie speel nie, oefen sy vir die Warrior-resies.

Sy het onlangs aan haar eerse Warrior-resies deelgeneem.

Dié resies bestaan uit 21.3km van hindernisse en is soortgelyk aan Bootcamp.

Deelnemers moet deur motorbande en onderdeur lemmetjiesdraad klim en oor vuur spring.

Roux en haar span wat uit van haar vriende bestaan, het hard vir dié resies geoefen en hulle het die resies in 4:50 voltooi en het 38ste geëindig uit 445 spanne.

Sy het op laerskool al begin hokkie speel

“Ek sal nie kan funksioneer as ek nie kan oefen nie.

“Ek kan nog ‘n dag sonder oefening gaan, maar nie langer as dit nie.

“Ek kan voel as ek nie geoefen het nie, het ek ‘n slegte dag,” het Roux gesê.

Sy eet gesond, wat baie groente en vrugte insluit, en probeer vetterige vleis uit haar eetplan sny.

“As ‘n mens nie reg eet nie, baat oefening jou niks nie,” het sy gesê.

Buiten hokkie, doen sy gereeld kragoefeninge en swem.

Sy gee spinning-, joga- en pilatesklasse by die Sasol Gimnasium.

Roux het eers voltyds by dié gimnasium gewerk, maar het besef dat sy eerder meer met kinders wil werk en het haar CV by Hoërskool Evander High School ingegee en ‘n pos as lewensoriënteringonderwyser gekry.

Sy rig dié skool se eerste seunshokkiespan af wat verlede jaar vir die eerste keer in dié skool se geskiedenis aan die Noordvaal-hokkietoernooi deelgeneem het.

Roux is avontuurlustig en het, nadat sy sportwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, op ‘n passasiersskip gewerk.

Sy het bykans die hele wêreld gesien terwyl sy op dié skip as fiksheidsinstrukteur gewerk het.

Haar tyd op dié skip het sy eie avonture opgelewer toe die skip waarop sy gewerk het by die Seychelles deur seerowers gejaag is en hulle ‘n tsoenami naby Japan net-net gemis het.

Sy beplan om vanjaar meer dinge te doen wat haar adrenalien sal laat pomp, soos riviervlotvaart.

Roux het al saam met krokodille en seekoeie geduik op Oudshoorn.

“Gelukkig was ek in ‘n hok,” het sy gesê.

Sy het ook al gerekspring en gevalskermspring.

In haar vrye tyd bestee sy graag tyd buite saam met vriende en familie en geniet dit om wildtuin toe te gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button