Elandi Klopper vir twee jaar gholfkampioen
Elandi se toekomsplanne sluit in om kinders te hê en nog meer in gholf te presteer.
BETHAL – Die vroue-kampioen van Bethal Gholfklub, Elandi Klopper, speel reeds sedert graad 8 gholf.
“Gholf is my passie en dis my daaglikse leefstyl,” het sy gesê.
Die bekende gholfspeler, Ashleigh Ann Simon, het haar geinspireer om gholf te speel.
Sy is al vir twee jaar na mekaar as die gholfklub se vroue-kampioen gekroon.
Elandi het vir twee jaar lank gholf saam met die SASSU-span van Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gespeel.
Ander prestasies wat sy behaal het, is dat sy en haar ligaspan verlede jaar derde in die liga geëindig het en dat sy ook ’n spanlid van die Hoëveld Interhoër Suidspan is.
Sy neem aan baie kompetisies deel en sy en haar spanmaat, Melanie Jansen van Noordwyk, was verlede jaar die nuutste en jongste vroue gholfspelers wat aan die liga deelgeneem het.
Hulle het vyf van hulle ses wedstryde gewen en een gelykop gespeel.
Sy het ook al by verskeie gholfklubs gewerk.
Volgens haar is die lekkerste deel van gholf dat dit ontspannend is en dat jy jou hartsvriendinne op die gholfbaan ontmoet.
Spelers kry hul dae wat hulle slegte gholf speel en dan dae wat hulle weer goeie gholf speel.
“Al wat dalk ’n nadeel van die sport kan wees, is dat dit baie duur is,” het Elandi gesê
Sy het ook gesê dat gholf die ideale familiesport is omdat oud en jonk daaraan kan deelneem.
Sy is op 30 Januarie 1986 in Pretoria gebore.
Sy het haar skooljare by Laerskool H.M. Swart en Hoërskool Hoogenhout deurgebring.
Na skool het sy vir drie jaar afrigtingsopleiding by TUT gestudeer en toe vir twee jaar klubbestuur by Damelin.
Sy het haar trouman, Corné Klopper, op universiteit ontmoet en die egpaar is reeds drie jaar lank getroud.
“Die lekkerste deel van ons verhouding is dat ons van dieselfde sport hou en dit saam speel.”
Sy het haar pa, mnr. Johan Odendaal, aan kolonkanker verloor en volgens haar was dit een van die slegste tye in haar lewe.
“Dit was regtig ’n moeilike tyd,” het sy gesê.
Haar ma, me. Marieta Odendaal, inspireer haar omdat sy haar altyd ondersteun.
“Sy het my geleer om ’n sterk vrou te wees.”
In haar vrye tyd kyk sy graag sport, lees boeke en kuier saam met vriende en familie.
“Ek is gek oor die bosveld en as ek die kans kry om te gaan, dan gaan ek,” het sy gesê.
Elandi se gunsteling kleur is blou en sy luister graag musiek.
Haar lewensmotto is om te leef asof dit jou laaste is, want die lewe is kort.
“Waardeer die mense in jou lewe,” het sy gesê.
Iets wat mense nie van Elandi weet nie, is dat sy vir slange bang is.
Volgens haar sluit haar toekomsplanne in om kinders te hê en nog meer in gholf te presteer.
“Ek wil net die beste van die lewe maak,” het sy gesê.





