Secunda-vrou hardloop goue medalje los by Comrades
Helena Joubert is dankbaar vir die mense in haar lewe.
Helena Joubert (46) het sewende geëindig onder die vroue in vanjaar se Comrades Marathon en dié 90km-wedloop in ses ure en 55 minute afgelê.
Hoewel sy eers nie gedink het dit is moontlik vir haar om ’n goue medalje in te palm nie, het sy toe tog haarself verkeerd bewys.
“My afrigter het vir my gesê ek kan goud hardloop, maar dan het ek net gelag, want ek het nie gedink ek kon nie,” het sy vertel.
“Tot die aand voor die tyd, toe het een van my spanmaats na my hardloopskoene gekyk en gesê: ‘Is dit die skoene waarin jy goud gaan hardloop?’ en toe hy dit sê, toe dink ek, maar as hy ook dink ek kan goud hardloop, dan moet ek in myself ook begin glo.”
Joubert het haar tyd met bykans ’n halfuur verbeter op haar vorige tyd in 2019 toe sy 26ste onder die vroue geëindig het en die wedloop in sewe ure en 22 minute voltooi het.
Joubert het in 2014 vir die eerste keer aan die Comrades Marathon deelgeneem en jaarliks haar tyd verbeter totdat die Covid-19-pandemie die wêreld getref het en daar vir twee jaar nie ’n Comrades Marathon was nie.
Sy het egter steeds bly oefen in dié twee jaar.
Joubert het op skool reeds aan landloop deelgeneem op Albertinia in die Wes-Kaap waar sy grootgeword het, maar toe sy begin studeer het, het sy dit eers opsy geskuif.
Sy het in ’n landbou-rigting studeer en later onderwys voordat sy en Van Zyl Joubert, wat vandag haar man is, vir twee jaar in Engeland gaan werk het.
Hulle het gedurende dié twee jaar teruggekeer na Suid-Afrika vir ’n kort rukkie om te kom trou.
Die egpaar het hulself in 2001 op Secunda kom vestig toe Van Zyl hier werk gekry het as meganiese ingenieur en hulle het intussen tot ’n gesin van vyf gegroei.
Joubert het, kort nadat die egpaar destyds na Secunda verhuis het, by Hoërskool Evander skoolgehou en in dié tyd die middelafstand-atlete afgerig en self weer so bietjie saam met hulle begin hardloop.
Sy het egter in 2004, met die geboorte van haar oudste dogter wat vandag in matriek is, die skoolhou verruil om voltyds ma te wees.
Sy het in 2013 weer ernstig begin oefen en hardloop en besluit sy wil die Comrades doen.
Joubert het in Desember 2018 op een van John Hamlett, ’n afrigter wat al 67 goue Comrades-medaljewenners opgelewer het, se oefenkampe gegaan en kort daarna by hom begin oefen.
“Ek het voorheen op my eie geoefen en niks geweet van oefenprogramme en sulke dinge nie,” het Joubert vertel.

Om só ’n groot prestasie by die Comrades te bereik, verg baie deursettingsvermoë, aandag, tyd en opofferings.
Joubert kon net drie dae tuis met haar man en drie kinders deurbring voordat sy saam met Hamlett en sy span na die Comrades vertrek het.
Voor dié drie dae was sy op ’n oefenkamp op Dullstroom vir agt weke waartydens sy nie haar man en kinders kon sien nie.
“Dit was baie moeilik en ek het baie verlang en die kinders neem aan sport en ander aktiwiteite deel en jy mis dit.”
In dié agt weke oefen die span twee keer daagliks en tussen oefensessies is hulle so moeg dat hulle net eet en slaap.
Op die dae wat hulle nie twee sessies gehad het nie, het hulle een lang sessie gedoen waar hulle minstens sewe ure aanmekaar op die pad is.
“Ons moes gewoond raak daaraan om so lank op die pad te wees om voor te berei vir die Comrades.
“Dit is emosioneel ook moeilik, ek het heeltyd gebid dat ek die sessie kon klaarmaak en tydens die Comrades ook.”
Die laaste 2km van die Comrades was vir Joubert die moeilikste.
“Jy sien die stadion, maar dan voel dit of dit net nie nader kom as jy hardloop nie.”
Een van die hoogtepunte vir Joubert was toe sy haar boetie en skoonsuster langs die pad gesien het.
Hulle het af gevlieg vanaf Albertinia om haar te ondersteun.
Haar man en kinders kon nie daar wees nie omdat hulle skool gehad het en vir die eksamen moes voorberei.
Joubert is dankbaar vir die mense in haar lewe en haar fisioterapeut, Lumé Brits, wat ook afgevlieg het om haar by die Comrades te ondersteun.
By die eindpunt wou Joubert huil.
“Toe die man wat jou die roos gee op sy knieë gaan… dit is so ’n mooi gebaar, en die mense wat ’n mens aanmoedig en inwag by die stadion.”
As Joubert nie oefen of tyd met haar gesin deurbring nie, bak sy haar eie muesli wat sy verkoop om die geld te gebruik vir tekkies.



