Jong krieketspelers meet kragte op Secunda
Buffalos wen o11 en o13-eindrondes van die SuperSlam.
Spanne van jong krieketspelers het die afgelope naweek kragte gemeet tydens Secunda Krieketklub se heel eerste o11 en o13 Superslam-toernooi.
Vier spanne het in elke ouderdomsgroep aan ‘n rondomtalie van 16 boulbeurt-wedstryde deelgeneem. Die top twee spanne in elke ouderdomsgroep het hierna op 15 Maart in die eindronde die stryd uitgespook in T20-wedstryde.
In die o11-groep het die Buffalos en die Serval Cats kragte gemeet. Serval Cats het die muntgooi gewen en besluit om eerste te boul. Die Buffalos het 91 lopies in hul 20 boulbeurte aangeteken, maar die Serval Cats het egter reeds in hul 16de boulbeurt dié mylpaal bereik en met vyf paaltjies gewen.
Shakeel Singh is as speler van die wedstryd aangewys, asook as die beste kolwer en bouler onder die o11-spelers en as die mees waardevolste speler van die reeks.
In die o13-groep was dit die Buffalos en die Highveld Bulls wat mekaar die stryd aangesê het in die eindronde.
Die Buffalos het besluit om eerste te kolf en het 111 lopies aangeteken.
Die Highveld Bulls het daarin geslaag om slegs 84 lopies aan te teken. Die Buffalos is as die kampioene gekroon.
Luan le Grange is as die speler van die wedstryd aangewys, asook die kolwer van die toernooi. Adam Cajee is as die bouler van die toernooi aangewys terwyl Jay van der Westhuizen as die mees waardevolste speler van die toernooi aangewys is.
- Die berig is gewysig om aan te dui dat Adam Cajee as die bouler van toernooi aangewys is.









