Gewigstoot-duo vaar goed
Dr Havinga en afrigter, Pierre Blignaut is trots op die duo.
Laerskool Dr Havinga spog met ‘n kragtige gewigstoot-duo wat onlangs baie goed by die CGA- (Central Gauteng Athletics-) byeenkoms gevaar het.
Hulle is Kara en Leoné van Eeden wat op 30 Oktober hul staal by die Boksburg Stadion gewys het. Die 11-jarige Kara het ‘n afstand van 10,49m gehaal waarmee sy ‘n tweede plek verower het. Sy kwalifiseer dus vir die SA Klubkampioenskappe wat later in November sal plaasvind.
Dié uitmuntende prestasie volg nadat sy verlede jaar Havies se interhuis-, interlaer-, en ook die Roodepoort-gewigstootrekord gebreek het. Sy het daarna ‘n tweede plek by die Gauteng Skole Kampioenskappe behaal en is boonop tweede in die land op SA Sport Skole Sterre se ranglys. Sy het ook vanjaar ‘n nuwe rekord by die interhuis opgestel.
Haar 13-jarige suster, Leone het self ‘n tweede plek by die CGA behaal met ‘n afstand van 11,46 waarmee sy vir dieselfde klubkampioenskappe gekwalifiseer het.
Dit volg nadat sy verlede jaar ook die interhuis-, interlaer-, en Roodepoort-rekord gebreek het. Daarna behaal sy ‘n welverdiende eerste plek by die Gauteng Skole Kampioenskappe. Nes haar suster is sy ook tweede in die land op SA Sport Skole Sterre se ranglys, en het sy het haar jaar op ‘n hoë noot afgesluit toe sy as Havies se beste baanatleet vir die jaar aangewys is.
Sy het vanjaar saam met Kara die Van Eedens se naam hoog gehou deur die Havies Interhuisrekord te breek.
Dr Havinga is saam met die susters se afrigter, Pierre Blignaut, trots op die twee en kan nie wag om te sien wat hulle in die toekoms gaan bereik nie.



