Laerskool Helderkruin het op Dinsdag, 11 Januarie hul Kruiners na ‘n lekker lang Desember-vakansie hartlik terugverwelkom.
Volgens Helderkruin se Jessica Courtney was al die Graad RR-, R- en 1-maats vreeslik opgewonde om vir die eerste keer grootskool toe te gaan.
“Ouers het die kleinspan na hul klassies toe vergesel en die mammas se trane het maar vlak gelê. Die maatjies was egter gretig om sommer dadelik aan die werk te spring en om hul nuwe skoolomgewing te verken,” het sy vertel.

“Baie het gestaan vir ‘n foto of twee om die dag te verewig – selfs die hoof, Peet Badenhorst en die personeel ook.”
Dit was vir die Kruiner Klitsie-gelukbringer lekker om die nuwelinge ‘n ‘high 5’ te gee en saam met hulle ‘n foto te neem.
“Party was maar lekker skrikkerig vir die vreemde mannetjie maar sodra hy gesê het, ‘Hallo, wat is jou naam?’ was die ys gebreek en was hulle op hul gemak,” het Jessica vertel.
Die Graad 7-leiers het almal by die hekke welkom geheet en ‘n geskenkie oorhandig aan elke nuwe leerder wat vanjaar gaan deel wees van die #Kruinermagic.
“Laerskool Helderkruin het ‘n groot groep Graad 1-leerders en kleuters verwelkom waarvoor ons baie dankbaar is. Iets om te onthou – elke dag het magiese oomblikke. Dit moet vir altyd gekoester word. #KruinerMagic,” het sy ten slotte gesê.



