
Trek jou vellies aan, stel jou kompas reg en maak gereed vir ’n dag vol ontdekking, opwinding en ’n tikkie wildernis!
Onder die tema Helderkruin Wildtuin – Wild, tog Wys, nooi Laerskool Helderkruin jou op Saterdag, 24 Mei, uit op ’n avontuur wat sal wys waarom hierdie skool as een van die top Afrikaanse laerskole aan die Wes-Rand beskou word.
Laerskool Helderkruin mag dalk op pad wees na sy 40-jaar-mylpaal, maar dié skool is allesbehalwe ’n nuweling as dit kom by prestasie, passie en ware skooltrots.
Van dag een af het Helderkruin sy plek tussen die “groot honde” opgeëis – en vandag staan hierdie trotse instansie rotsvas as een van die mees gesogte Afrikaanse laerskole op die Wes-Rand.
Om ’n Kruiner te wees, beteken iets. Dis nie net ’n naam op ’n trui nie – dis ’n identiteit,” sê skakelbeampte Christelle Herselman.
Die opedag, met ’n wilde kinkel, vind plaas van 08:30 tot 11:30.
Toekomstige Kruiners en hul ouers is welkom om:
• Klassies, kreatiewe ruimtes en speelareas te verken
• Die dinamiese, wyse personeel te ontmoet
• Self te ervaar waarom Helderkruin die plek is waar klein spore groot drome word
“Ons kinders floreer omdat hulle op vaste waardes bou,” sê Christelle.
“Dis nie net ’n opedag nie – dis ’n avontuur. Hier begin die reis! Daar’s groot dinge in die pyplyn,” knipoog sy.
Die Groot Kruiner Kapperjol vind vanaf 12:00 tot 17:00 plaas.
Ná die opedag skop die Boerefees amptelik af – ’n familievriendelike fees met plaasmark-geure, springkastele, smullekker kos, en natuurlik die klanke van Bosveld Stereo om die kuier nóg lekkerder te maak.
“Dis ’n dag vol kultuur, kos, kuier – en ’n groot onthulling,” sê Christelle.
“Wat wag, gaan Kruiners se idee van identiteit vir altyd verdiep.”
Afrikaans is 100 … maar Helderkruin is splinternuut!
Kom beleef dit self. Dis ons tyd om groot te gaan – en jý’s deel van die storie!
Wil jy uitstal? Jou kans is hier!
Plaaslike besighede en entrepreneurs kry die geleentheid om hul produkte aan die gemeenskap bekend te stel. Uitstallers is welkom om deel te wees van die feesvieringe – van handgemaakte produkte tot unieke lekkernye.
Vir meer inligting, kontak Christelle Herselman by 076 511 9695, of stuur ’n e-pos na bemarking@kruiners.co.za.