Kyk: Lentedag-tradisie na 27 jaar nog aan die gang
Lentedagswemmer Alli sit sy tradisie op prettige wyse voort.
Alli Heyns het oudergewoonte op 1 September sy jaarlikse swemtradisie voortgesit en in die proses vir groot pret gesorg.
“Hierdie is die 27ste jaar wat ek op 1 September swem,” sê Alli. “Elke jaar kom ek met ‘n plan vorendag om dit spesiaal en prettig te maak en deel dit met amusante video’s op my WhatsApp-groepie wat spesifiek vir dié doel gestig is.
“Dit dien as bron van vermaak vir my vriende regoor die land, asook inspirasie vir meer mense om aan die Lentedag-swemtradisie deel te neem.”
Op 1 September 2024 het Alli, ter viering van sy 25ste Lentedag-swem, in 25 swembaddens gespring. Die video hiervan het groot aftrek aanlyn geniet.
• Lees ook: KYK: 25 swemme vir Alli op Lentedag
In 2025, op die stel van die gewilde TV-reeks Op My Eish, waar hy as klankingenieur gewerk het, het dit amper gelyk of hy van sy jaarlikse tradisie sou moes afsien. Die produksiespan het hom naamlik ‘n streep getrek deur hom in sy hotelkamer toe te sluit.

Vir sy 27ste Lentedag-swem het Alli egter ‘n nuwe uitdaging aan sy WhatsApp-volgelinge gestel: Hulle moes hulself verfilm terwyl hulle op Lentedag swem en die video’s vir hom aanstuur.
Hy sou dan die video’s in een video saamvoeg. “My vrou het met my ‘n weddenskap aangegaan dat ek nie 27 mense sou kon kry om ook te swem nie. Dit was nogal lekker om haar verkeerd te bewys.”
Dit het aanvanklik gelyk of Alli nie die paal sou haal nie, maar ‘n paar laaste-minuut-video’s het hom gelukkig oor die wenstreep gedra.
Só het hy nie net sy 27ste Lentedag-swem gevier nie, maar ook sy weddenskap gewen.
Kyk die video hier:
@caxton.jhbwest Discovery-inwoner Alli Heyns het vir sy 27ste Lentedagswem, vriende uitgedaag om vir hom videos van hul eie Lentedagswem aan te stuur. #fyp #spring #swimming ♬ original sound – Caxton JHB West



