Roodepark Skool se mark tref die kol
Roodepark Skool se jaarlikse mark bied 'n wye verskeidenheid luukse produkte wat deur die leerders self ontwerp en vervaardig is.
Soos gewoonlik het Roodepark Skool vroeër in Oktober hul jaarlikse mark by die skool aangebied.
Deur die jare het die mark ‘n gewilde instelling by die skool en in die plaaslike gemeenskap geword aangesien al die produkte wat te koop aangebied word, deur die skool se leerders deur die loop van die jaar vervaardig word.
Volgens die skool se bemarkingsbeampte, Nicole Rule, word die produkte hoofsaaklik as deel van die leerders se klasprojekte en vir assesserings vervaardig.
“Ons is natuurlik vreeslik trots op die talente van ons leerders wat hier blootgestel word,” sê sy. “Die verbeelding wat die leerders ten toon stel in die ontwerp en vervaardiging van die wye verskeidenheid produkte is fenomenaal.”
Die reeks produkte wat by die mark te koop aangebied word, is inderdaad fenomenaal, en sluit alles in van klassieke meubelstukke tot innoverende buitemeubels en -dekor, braais en vuurherde, snyplanke, pophuise, majestueuse kandelare, bogrondse plantbeddings, en nog baie meer.
Ouergewoonte het die mark ‘n koffiekroeg en tuisnywerheid gebied, weer met lekkernye wat deur leerders gemaak is.