Buffel-atlete sit trotse tradisies voort na agt jaar
Trotse Buffel-tradisies is voortgesit na agt jaar tydens Hoërskool Bastion se onlangse interhuis-atletiekbyeenkoms.

Vir die eerste keer in agt jaar het Hoërskool Bastion weer hul interhuis aangebied.
Volgens Bastion se bemarkingshoof, Florinda Hearn, was die byeenkoms, gehou op 21 Januarie, ‘n reuse sukses.

“Ons is op die regte pad wat voorbereiding aanbetref vir die komende atletiekseisoen. Die gees was groot onder die leerders en ‘n toonbeeld van goeie samewerking en kameraadskap. Bastion het ook teruggekeer na ons trotse tradisies van sport spanne se name naamlik Leerdam, Nassau en Buren. Die spanne het dan teen mekaar meegeding in goeie gees en die beste in mekaar uitgebring,” het sy verduidelik.
“Onderwysers sowel as dirigente het selfs teen mekaar deelgeneem in ‘n opwindende aflos-item,” het sy bygevoeg.

Florinda sê hul atlete neem die volgende drie Vrydae deel aan vriendskaplike byeenkomste. Daarna sal hul sterktste span gekies word om hul staal te wys tydens die Interhoër by die Universiteit van Johannesburg (UJ) se atletiekstadion op 10 Februarie.
“Ons sien uit na ‘n suksesvolle atletiekseisoen vol prestasies,” het sy afgesluit.