Roodie-atlete het op 1 Februarie vir die eerste keer aan die Interskolereeks by Hoërskool Menlopark deelgeneem en hulle uitstekend van hul taak gekwyt.
Ten spyte van strawwe mededinging van atlete van die deelnemende skole, het Roodies danksy hul indrukwekkende prestasie, harde werk en deursettingsvermoë as wenners uit die stryd getree.

Skole soos Laerskool Garsfontein, Wonderboom, Rooihuiskraal, Generaal Hendrik Schoeman, Proteapark, Concordia, Bryanston Parallel Medium en Impala Crescent Primêr het deelgeneem.
Roodekrans wen met ‘n skitterende 389 punte, met Garsfontein in die tweede plek met 374.5 punte en Generaal Hendrik Schoeman in die derde plek met 330 punte.
Volgens die skool se skakelbeampte, Liandri Le Roux, wil die skool hul spesiale dank uitspreek aan elke atleet, ouer, afrigter en personeellid.

“Die dag was gevul met sportmangees en passie, en waar almal se talent ten toon gestel kon word,” sê sy.
“Garsfontein, wat verantwoordelik was vir die reëlings op die dag, het gesorg dat alles perfek verloop. Dit was ook ‘n eer om van Hoërskool Menlopark se uitstekende fasiliteite gebruik te kon maak.
“Dit was ‘n dag wat Roodies nie gou sal vergeet nie.”



