Schools

Buffels se boogskutters skiet ‘n kolskoot

Hoërskool Bastion spog met hoë boogskietprestasies en beplan om selfs hoër hoogtes te bereik.

Hoërskool Bastion is reeds in hul derde jaar van formele boogskietafrigting en het sedert hul stigting van twee lede tot 36 gegroei.

Lees ook: Bastion eerstes wen Goue Leeus-eindstryd teen Randfontein skool

Bastion se bemarkingshoof, Florinda Hearn, het vertel dat hulle aan Africa Genesis Archery South Africa (AGASA) behoort en op beide provinsiale en nasionale vlak onder die afrigting van Annie Nolan en Adriaan Cilliers deelneem.

“Die boogskiet wat aangebied word, fokus op die vaardigheid van die leerders, waar almal met dieselfde tipe boog skiet. Geen ekstras word toegelaat nie. Dit verseker dat al die skuts op dieselfde vlak meeding. Geld en toebehore kan nie jou skote verbeter nie – net jy as skut kan deur toewyding en oefening verbeter,” het sy verduidelik.

Sy het verder vertel dat hulle baie trots is op die feit dat drie van hul skuts, Zinelle Smit, Riaan Cilliers en Christiaan Nolan, in 2024 in die Gautengse provinsiale span opgeneem is.

Gr 10 boogskutter Christiaan Nolan.

“Die span het ook aan die nasionale kampioenskappe in Kimberley, Noord-Kaap, deelgeneem. Dit was ons eerste keer, en ons het ‘n ongelooflike 11de plek behaal uit 618 skole,” het sy gespog.

“Ons plan vir vanjaar is om ons prestasies te verbeter. Tydens ‘n onlangse kompetisie in Centurion het die Bastion-span ‘n uitstekende derde plek in Gauteng behaal. Ons wil op hierdie prestasies voortbou en beplan om selfs beter te vaar tydens vanjaar se nasionale kampioenskappe in Limpopo,” het sy afgesluit.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button