Kruiners maak geskiedenis
Kruiners het tydens hul Kruiner Kapperjol hul splinternuwe gelukbringers aan die wêreld voorgestel.
Groot opgewondenheid het Saterdag, 24 Mei, by Laerskool Helderkruin geheers tydens die amptelike bekendstelling van hul splinternuwe gelukbringers, Klein Koedoe en die Kruiners Koedoe, tydens hul langverwagte Kapperjol.

Die Kruiners Kapperjol is voorafgegaan deur hul opedag met die tema Wild, tog Wys, waartydens voornemende Kruiners en hul ouers self kon ervaar waarom Laerskool Helderkruin een van die mees gesogte Afrikaanse skole aan die Wes-Rand is.

Die skool vier vanjaar hul 39ste bestaansjaar en, volgens skakelbeampte Christell Herselman, is dit nog maar net die begin.
“Ons sien uit na nog groter en beter dinge in die toekoms.”
Die Kruiner Kapperjol het teen die middag afgeskop met ’n amptelike opening en ’n opwindende bekendstellingseremonie, waartydens Klein Koedoe en Kruiner Koedoe hul verskyning op die verhoog gemaak het.
Die res van die dag was propvol pret, met ’n wye verskeidenheid om te doen, te sien, en natuurlik, aan te smul.
Kyk video hier: https://www.tiktok.com/@caxton.jhbwest/video/7509421128482295046
Die dag se vermaak is deur Bosveld Stereo behartig, en die gepaardgaande mark het met talle unieke stalletjies gesorg vir ’n oorvloed van winskopies.

Perderitte, boeresport, skyfskiet, meganiese bulle en springkastele was maar net ’n paar van die trekpleisters wat op die dag beskikbaar was.



