SchoolsUpdate

‘Dis bog,’ sê ouers oor beweerde rassisme by Laerskool Dr Havinga

Havie-ouers slaan terug teen rassisme-aantygings: “Ons staan vierkantig agter ons onderwysers.”

Die bom wat vroeër in September by Laerskool Dr Havinga gebars het met bewerings van rassisme, is opgevolg deur ‘n wye spektrum ouers wat vir die skool en sy leerkragte in die bresse getree het.

Roodepoort Record het vroeër berig dat twee onderwysers en die skoolhoof tydelik na die Gautengse onderwysdepartement se distrikkantoor toe herontplooi is, terwyl die departement beweerde rassisme by die skool ondersoek.

Die aantygings spruit voort uit ‘n 4 Augustus voorval waartydens ‘n ouer en onderwyser se meningsverskil slaags geraak het. Bronne het aangedui dat die dispuut oor dissiplinêre stappe was wat die skool teen die kind geneem het. Die ouer word nou deur die polisie ondersoek vir beweerde aanranding, berig die Gauteng se provinsiale polisiewoordvoerder, Kolonel Mavela Masondo, terwyl die onderwyser en twee kollegas departementeel ondersoek word.

• Lees die oorspronklike artikel hier: Bewerings van rassisme by Havies ondersoek

Die aantygings teen die skool is “absolute bog,” sê ’n ontstoke ma van ’n graad 7-seun. “Hierdie onderwysers was nog nooit enigiets behalwe goed vir ons kinders nie. Hulle is geliefd onder ouers en kinders, ongeag kleur. Nie een van hulle sou ooit ’n kind – of ouer – anders behandel oor hulle velkleur nie.”

’n Ander ouer vertel: “Aanvanklik was ek ingestel op enige moontlike ‘anderse’ behandeling wat my kind in ’n Afrikaanse skool sou kon ervaar. Maar hy is nou in graad 7 en al van graad R af ’n trotse Havie. Hy presteer uitmuntend, is geliefd onder sy maats van alle rasse, en is baie lief vir sy juffrouens en hoof. Hy is nog nooit anders behandel as enige ander kind nie, en hy het ook nog nooit gesien dat sy maats anders behandel word nie.”

Nog ’n ma sê: “Ons kinders is emosioneel oor die hele aangeleentheid. Hulle is in ’n kritieke stadium van hul graad 7-jaar en dit is vir hulle moeilik om aan te pas by die veranderinge, aangesien hul onderwysers nie hier is nie.”

By navraag het die beheerliggaam se voorsitter, Adriaan Gross, gesê: “Die saak word deur die Gautengse Departement van Onderwys hanteer, en ons werk volledig saam. Ons kan nie kommentaar lewer oor individuele persone of aantygings nie. Ons fokus bly op die belange van ons leerders en die voortsetting van onderrig.”

“Ons moet klem lê daarop dat die personeellede nie geskors is nie. Hulle is bloot herontplooi totdat die ondersoek voltooi is,” het Mabona gesê.

* Ouers se name en vanne is weerhou om die identiteit van hul minderjarige kinders te beskerm, soos deur die Suid-Afrikaanse Perskode vereis word – red.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Johan Meyer

"Johan is an internationally published journalist and editor with extensive experience in news and industry reporting. His work has featured in numerous publications over the years. He cut his teeth at the Roodepoort Record and Northside Chronicle as proofreader, swiftly progressing to junior journalist. He later joined Randfontein Herald as journalist and eventually worked his way up to becoming editor. During his years away from Caxton, he fulfilled journalist and editor positions for various industry publications at the once mighty Malnor Media House right up to their closure in 2019. This position saw him traveling all over the world on writing assignments. Since 2019, he has worked as a freelancer for various publishing houses, and had a year-long stint as senior editor for a large stable of retail and medical B2B titles, until rapid growth of his own small business required his fulltime attention. At the end of 2023, with his own business now fully staffed, Johan decided to dedicate himself to his first love, working as a local journalist for the good of his community. "

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button