
Dit is nou net so ‘n bietjie meer as 100 dae sedert President Cyril Ramaphosa die nasionale inperking aangekondig het, en behalwe vir die feit dat ek weer soos ‘n tiener voel (ek mag nie drink nie, ek mag nie rook nie en ek mag ook nie uitgaan nie), moet ek erken dat ek ook baie tyd gehad het om oor ‘n paar dinge na te dink.
Ja, ons almal is bewus van hoe ernstig die koronavirus is, en glo my, hierdie is nie maar net nog ‘n klaaglied nie. Nee, ek het gaan sit en besef dat Rona, (sien, noudat die virus vir nog ‘n rukkie saam met ons gaan wees, voel ek dat ons mekaar maar op die naam mag aanspreek) nie nét sleg is nie.Nou, voordat julle almal dalk dink ek het my varkies heeltemal verloor (moenie bekommerd wees nie, al is hulle nie almal in die hok nie, is meeste van hulle darem in die nabye omgewing van die hok), laat ek dit so verduidelik.Die inperkingstydperk, tesame met al die vlakke en regulasies wat daarmee gepaardgaan, het baie dinge van ons Suid-Afrikaanse burgers weggeneem, maar in dieselfde asem het dit ook vir ons ‘n paar ander dinge teruggegee.Een van die grootste verliese wat ek ervaar het as gevolg van Rona, is die uitstel en afstel van sport.
Dit mag dalk nie vir ander mense so erg wees nie, maar vir my, ‘n passievolle ondersteuner, was dit ‘n big deal. Ek meen, wat moet ek nou op ‘n Vrydagoggend en Saterdag met myself aanvang, as daar nie een Superrugby-wedstryd op TV is nie? Maar, toe ek nou so ‘n bietjie sit en dink daaroor, het ek besef daar is wél ‘n silwer randjie… My gunsteling rugbyspan het in die laaste vier maande nog nie een wedstryd verloor nie (‘n rekord vir hulle, beslis!).
Die ander ding wat dalk ook vir baie van ons baie moeilik is, is die feit dat ons vir die grootste gedeelte van hierdie tydperk nog net toegelaat is om óf by die huis te wees óf by die werk (en in sekere gevalle by die skool), wat essensieel beteken ons sien elke dag net dieselfde mense. Maar, ja, glo dit of nie, daar is ook ‘n positiewe kant hieraan, want hier is die geleentheid nou om daai familiebande te versterk en te verbeter.
Ek glo ook dat dit baie bygedra het tot die feit dat ons meer moeite gedoen het om wél daai spesiale geleenthede wat ons nog altyd as vanselfsprekend aanvaar het, op ‘n kreatiewe manier te kon vier. En, terwyl ons almal nou soveel tyd het, het ons ook die geleentheid gekry om baie van daardie dinge wat ons nogal altyd wou doen, te kon doen. Ons kon bak en brou in die kombuis, meer tyd aan ons oefenprogram afstaan, nuwe stokperdjies aanleer of dié wat ‘n bietjie agterweë gebly het, weer opneem en ook vertroud raak met die digitale wêreld en wat dit alles behels.
Deel gerus julle ondervinding en gedagtes met my deur ‘n epos te stuur na roodepoortrecord@caxton.co.za
Tot volgende week, bly veilig en sien om na mekaar …



