Local sportSport

Rolbal aan die brand vir Braaidag

'Die spelers het die niespelers touwys gemaak en in die proses groot pret gehad.'

Die Witpoortjie Rolbalklub het Erfenisdag gevier soos dit veronderstel was om gevier te word – met gesonde kompetisie, goeie musiek, verfrissende drankies en die belangrikste, ‘n vleisie op die kole.

Len van Biljon in aksie. Foto: Alanicka Lotriet.

Vieringe op Vrydag, 24 September het op ‘n hoë noot afgeskop toe ongeveer 32 entoesiaste hul rolbalvaardighede met mekaar vergelyk het. Volgens organiseerders Flip Pretorius en Tommy Smith het elke span uit ‘n rolbalspeler en ‘n niespeler bestaan.

“Ons wou graag ons passie en entoesiasme vir rolbal deel en het daarom almal wat belangstel genooi om die sport te kom uittoets. Die spelers het die niespelers touwys gemaak en in die proses groot pret gehad,” het Tommy vertel.

‘n Aantal gestremde rolbalspelers het ook in die Braaidag-vieringe gedeel. Een van hulle is die klub se eie Protea-rolbalkampioen, Tracy Smith.

Morné Petzer geniet die sport. Foto: Alanicka Lotriet.

Nadat deelnemers hul staal op die baan gewys het, is die vure aangesteek en het hulle die res van die heerlike somersdag in goeie geselskap geniet. Daar is behoorlik musiek gemaak toe Bevonk Orkes ‘n opwindende uitvoering gegee het.

Erfenisdag is een van die klub se grootste geleenthede gedurende die jaar waartydens hulle nie net as klub saamkuier nie, maar ook gaste ontvang wat in die sport belangstel.

Tommy Smith en Flip Pretorius kuier lekker saam. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ons vertrou dat die lede en gaste dit net so baie soos ons geniet het. Die weer, musiek, vleis en geselskap was topgehalte. Ons bedank graag almal wat die dag saam met ons spandeer het en kan nie wag vir die volgende geleentheid nie,” het Flip ten slotte vertel.

Desmond Saaiman, John van Vuuren, Eon Fourie en Ernest Watkins geniet die dag saam. Foto: Alanicka Lotriet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button