Byna 100 skuts het oor die langnaweek op Hoërskool Florida Skietklub toegesak vir die Gauteng Skole Skutters Unie (GSSU) se eerste ligawedstryd van die jaar.
Die kompetisie het bestaan uit beide hoërskool- en laerskoolskuts van skole regoor Gauteng.
Florida se skuts het toptalent van onder meer Linden, Randburg, Hoërskool Noordheuwel en Helpmekaar Kollege in die gesig gestaar.
In die laerskole-afdeling het Florida en Fairland onder meer mekaar die stryd aangesê.
Volgens klubafrigter Annerien Snyman het die kompetisie uit beide geweer- en pistooldissiplines bestaan.
“Florida Hoërskool Skietklub se skuts het tydens die kompetisie uitgeblink en eerste plek in die o14, o16 en o21 geweer items verower,” sê Snyman.
“Ons pistoolskuts het skoonskip gemaak met topposisies in alle ouderdomskategorieë, insluitend eerste, tweede, derde en vierde plekke in die o12, top sewe posisies in die o14, eerste en tweede in die o16, en die top drie posisies in die o21 kategorie.
“Ons is so trots op ons skuts wat weereens bewys het dat harde werk en toewyding resultate lewer.”



