Florries vermorsel Kennies op krieketveld
Laerskool Florida se meisieskrieketspan het koning(in) gekraai teen die heersende kampioene.
Laerskool Florida het op 26 Oktober teen die verdedigende kampioene, Laerskool Kenmare, in die Gauteng-Wes Laerskole krieketfinaal geseëvier.
Volgens afrigter Dala Greyling was die wedstryd teen die berugte Kennies ’n groot struikelblok om te oorkom.
“Ons het geweet die wedstryd teen Kenmare gaan nie maklik wees nie. Hulle het baie goeie spelers en was nie verniet die heersende kampioene nie.
“Kenmare het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
“Ons was van die staanspoor vasberade om so min as moontlik lopies af te staan, en toe daar reeds in die tweede boulbeurt twee paaltjies val, was ons oorstelp van vreugde.
“Ons boulers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt, en ons het in die tiende boulbeurt weer ’n paaltjie gevat.
“Die plan was om Kenmare tot onder 100 lopies te probeer beperk.
“Leanay Jansen se boulwerk was uitmuntend, met drie paaltjies in vier boulbeurte en slegs 24 lopies afgestaan.
“Annabel Conradie het ook twee paaltjies in vier boulbeurte geneem.
“Phebe Cronjé en Kanika Pieterse het elk een paaltjie gevat, en Leoné Venter was baie ekonomies met slegs sewe lopies in vier boulbeurte. Kanika het ook ’n uitstekende uithardloop bewerkstellig.”
Greyling voeg by dat sy tydens rustyd vir die Florrie-spelers gesê het om rustig te kolf en hul tyd te neem.
“Leanay en Phebe het die kolfwerk geopen en is albei tydens die sesde boulbeurt uit.
“Daarna het Kanika en Chelsey Pretorius ingekom en die wenlopies reeds in die twaalfde boulbeurt bereik.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir die oorwinning en sou dit nie kon doen sonder harde werk, spanwerk en ons Hemelse Vader nie,” sê sy ten slotte.



