Tydens ’n glansryke geleentheid te Margate Aftree-oord, is Dr Lourens Faul – maestrokomponis op die gebied van die Afrikaanse Kunslied, met ’n ATKV-oorkonde vereer.
Nagenoeg 40 uitgenooide gaste het die voorreg gehad om hierdie besondere geleentheid by te woon waar Faul ook self van sy liedere gesing en op die klavier gespeel het.

ATKV-direksie voorsitter Bridgitte Mathews het die oorkonde oorhandig bygestaan deur Coenraad van Rensburg, ATKV-streeksbestuurder: KZN en Oos-Vrystaat, asook Dr Mike Heaney, voorsitter van die ATKV-tak KZN Suidkus.
Faul het meer as 1 000 komposisies uit sy pen laat vloei. Volgens hom het kunsliedere ’n lang tradisie wat liedere herskep tot gedigte wat iets groter is as die oorspronklike gedig en wat ’n spesiale gehoor vereis.

Hy beskryf dit as musiek vir die binnekamer van die hart. Dit is skeppend en kreatief. Sy voorliefde vir dié kunsgenre is aangewakker toe hy die wêreldberoemde Erik Werba,groot kenner en begeleier van die kunslied, ontmoet het. As ’n groot liefhebber van Boerneef, het Faul talle van laasgenoemde se gedigte getoonset.

Dr Lourens Faul, veelsydig, geniaal, talentvol en merkwaardig jonk van gees, want op die rype ouderdom van 88 jaar het hy steeds twee groot voorliefdes: komponeer en om in die see te swem. Die ATKV salueer hierdie unieke komponis.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
