Slegs ‘n week na die Boskor saga trieng Neels se telefoon. Gelukkig is hy op kantoor. Iemand het op ‘n keer opgemerk dat jy kan net kan score as jy op die veld is. Dis nou kwart oor vier op ‘n Vrydagmiddag. Die kantoor is verlate, behalwe Neels en die adminklerk. Soos ‘n trompetgeskal verbreek die telefoon die stilte. Op nonchalante wyse identifiseer Neels homself en bied sy vermoë aan en verneem hy wie is aan die anderkant van die draad.
LEES OOK: Die Lorriesmous: Kaskenades in die plantasies
Dis Oompie Bosman van Weltevrede, deuskant De Doorns, wat wil lorries koop. Toe Neels vra wat hy vervoer en welke roetes gery word, raak Oompie omgekrap. “Ek weet wat ek wil koop, die manne in die Kaap sê ek moet die 14 ton 2426 reeks koop: het jy voorraad en wat is jou prys? ” Sonder om Oompie verder die harnas in te jaag, trek Neels ‘n vinnige skoot af. Wil Oompie ‘n haak agteraan hê om ‘n trailer te trek? Maar natuurlik, 14 ton druiwe op die lorrie en 12 ton druiwe op die trailer. In die Kaap speel ons nie, hier laai ons. Dis al wat Neels wou hoor.

“Oompie, nou moet jy mooi luister: Die 2426 reeks het net ‘n ses-spoed ratkas met geen bruto kombinasie trekvermoë nie. Jy gaan selfs op die platpad sukkel om weg te kom en die koppelaar sal nie ‘n maand hou nie. Jy het my gebel en al wil jy hierdie model by my koop, sal ek nie jou bestelling vat nie. Ek het die geskikte 14 tonners met sestien-spoed ratkas en en meer as 50 ton bruto kombinasie spesifikasie. Die aangewese model vir jou applikasie is die Powerliner 2629 en die laaste twee in ons voorraad behoort aan jou. Daarna is daar ‘n allemintige waglys en jy sal tenminste ses maande moet wag vir aflewering. Aan die anderkant is die lyn tjoepstil. Oompie het so wraggies die foon afgedruk!
Kwart voor vyf lui die telefoon weer benoud. Dis Oompie wat heel saaklik verskoning aanbied dat hy die foon neergesmyt het. Ek dink toe by my selwers, laat ek die manne in die Kaap vra of jy nonsens praat. Gelukkig praat ek met hulle bestuurder en hy luister aandagtig, nes jy.
Hy weet te vertelle dat hulle salesman, sonder sy wete, die 2426 reeks aan my wou afsmeer omdat die 2629 reeks uit voorraad is! Hy gee my die versekering dat hy met die gladde mannetjie sou afreken. Toe beveel hy jou aan dat ek gerus met jou kan sake doen, jy weet waarvan jy praat.
Neels laat Oompie maar uitpak oor sy wingerde en die Bolandse berge. Neels is in sy beginjare geleer om te luister wat die kliënt op sy hart dra. Uiteindelik kom Oompie tot verhaal. Hy verskaf al sy detail, ook sy bankier s’n, en vra Neels om die bestelling onmiddelik deur te faks vir ondertekening en bevestiging van sy bank. Vyf minute voor ses begin die faksmasjien sy ondermaanse gorrelgeluide maak en spoeg die een na die ander dokument uit. Neels skakel Oompie onmiddellik en verseker hom dat hy sy lorries volgende week sal aflewer.
Die volgende oggend is dit déjà vu in Mike en die Hoof se kantoor.
Neels breek die stilte deur verskoning aan te bied dat hy vir ‘n week lank geen transaksies gedoen het nie; inderdaad het niemand sedert die Boskor debakel enige rimpeling op die oppervlakte gemaak nie! Weer plaas hy twee voltooide lêers op die tafel en merk op dat Mike se voorraad nou uitgeput is. Mike raak weer verkleurmannetjie om die kiewe maar sê niks, net sy hoorbare asemteue verklap sy weersin. Die Hoof is net bekommerd oor die afleweringskoste. Neel stel hom gerus dat daar genoeg vleis in die transaksie is. Die Kliënt het geen afslag op die skaars voorraad gekry nie. Vir logistiek staan hy eerste in die klas. Neel reël die aflewering en sal die trokke aflewer om elfuur die volgende Woensdag. Daarna sal hy van sy kontakte en potensiële kliente in die Boland omgewing besoek en die daaropvolgende Dinsdag terug op kantoor wees. Die Hoof wil weet of Neels se geliefde wederhelf saamgaan? Neels kyk hom skuins aan en knipoog met ‘n breë glimlag. Die totale afleweringskoste beloop kwalik een persentasie punt van die winsgrens en Neels word nogeens geluk gewens met sy blink transaksie.

Die langpad bly opwindend. Kort voor lank maak hulle vol op Colesberg. Die ses- spoed Duitser maak korte mette van die lang reguit paaie van die Karoo. Sonder om aanhoudend te kwetter is Neels en sy vroulief een in gewaarwording en opwinding en skat afstande tot oor die volgende bult. Voor die son water trek, duik die afdraai na Matjiesfontein links op. Vanaand is hulle gaste in die Lord Milner. Krakende plankvloere, antieke meubelment met uithaler eetkamer is hulle voorland. Die hemelbed herinner Neels aan hulle wittebrood, alreeds twintig jaar terug. Na ‘n vinnige brekfis word die laaste rit met mening aangepak. Oompie kry sy nuwe veertien ton vragdraers vandag. Vroulief kruip ondersy skouer in en druk Neels se linkerhand met tere vertroue. Neels konsentreer intens met sy oë rotsvas op die pad.Nimmer as nooit kon hy beter lewensmaat kry nie!
‘n Kilometer of vyf voor die afdraai na Weltevrede, bemerk Neels die twee blinknuwe strydrosse voor hom.
Sy tydsberekening kon nie beter wees nie. Die sandpaadjie na Oompie se vervoerwerf is vars geskraap vir die geleentheid. Dit gons van druifkiste op palette wat vurkhysers op platbakke plaas. Vinnig en behendig word die vragte vasgetrek en geseil. Neels parkeer netjies langs Oompie se nuwe trokke. Voor hy kan uitklim, verskyn Oompie langs sy deur, gelukkig was sy ruit afgerol. Terwyl Oompie hulle kantoor toe lei, ondersoek sy seuns hulle nuwe vlootaanvullings.
Vroulief word in Oompie se vrou se sorg geplaas. Neels en Oompie betree die raadskamer. Die bankbestuurder is alreeds in sy stoel. Neels oorhandig die oorspronklike dokumentasie aan sy kliënt en wag vir die ondertekening van die afleweringsbrief. Net daar kom Ouboet, die oudste seun, ingestap en gee Oompie die groen lig om te teken. Die bankbestuurder haal ‘n netjies toegeplakte koevert uit sy akte tas en skuif die betaling oor die tafel na Neels. Tot almal se verbasing maak Neels die koevert oop en lees die detail duidelik voor. Hy lees die datum, die bedrag in syfers en in woorde laat hy nie agterweë nie.
Oompie verbreek die stilte met ‘n kwalik hoorbare stem: dis nou wat ek deeglik noem. Neels wil nog praat oor die spesifikasie, instandhouding en dryweropleiding toe Oompie hom in die rede val. Boetman, ons hele vloot is Duits, ons ken die “ins” en “outs” van wat ons koop. Soos een man is hulle uit die raadskamer. Oompie en die bankman bedank Neels en groet saaklik: “ Hier word gewerk soos jy kan sien, ons het nie tyd vir praatjies of etetjies nie.” Daarmee draai Oompie om en verdwyn in sy skure… Tot vandag nooit weer van hom gehoor of gesien nie.
Oompie Bosman het inderdaad gekom en gegaan. Dit was onnodig om te verneem na sy welstand of tevredenheid met sy nuwe trokke. Hy was bestem om die laaste twee gereserveerde veertien tonners op te raap. Oompie se beeltenis staan steeds duidelik voor Neels. Kwalik skouerhoogte lank, fors gebou met bakarm en groot eelterige hande, sonder enige draadwerk in sy mondering. Wanneer Neels oor sy skouer loer, bespeur hy tog ‘n handvol Oompies in sy annale as lorriesmous. Dog hulle was maar yl gesaai.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
