BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Die droefheid lê en loer…

Klein Dirkie het roerloos langs die wrak gelê, sy dowwe ogies starend na die Hemel.

Dit verg goeie beplanning om sonder uitsondering  vroeg op te daag vir ‘n afspraak. Dit skep die geleentheid  om jou strategie na te gaan en daarna koel en bedaard die leeu in die bek te kyk. Op ‘n keer toets ‘n voornemende koper die dapper lorriesmous se vemoeëns deur ‘n afspraak om halfagt op ‘n Woensdagmore te maak. Die vangskoot was dat die kliënt in Messina was, meer as seshonderd kilometers vêr.

Kort voor middernag val Neels in die pad, eet brekfis by Ta’ Sofie se kombuis in Mekado en kwart oor sewe gooi hy ankers voor Duvenhage se hek. Toe hulle handskud vra Duf waar is Neels se orderboek, hy wil teken. Met ‘n man wat sy afspraak so stiptelik nakom,  kan hy sake doen.

Gelukkig was die Versters net 30 kilometers om die draai van die Handelaar, halfuur se ry. Maar  Dirk Verster was niemand se speelmaat nie. By hom kom niemand vroeg of laat aan nie. In sy besigheid is orde die wagwoord; hier word gewerk en niemand wag vir niemand nie. Die eerste lorrie wat Neels aan Verster en Seuns verkoop het seepglad verloop tot by die aflewering. Dirk het aangedring op aflewering om sesuur die Saterdagoggend, want in die week word daar gewerk op sy perseel.

Pixabay

Vir Neels was dit kinderspeletjies. Hy sou persoonlik die trok met al die nodige dokumentasie  aflewer, Willem, een van Dirk se seuns, sou hom terug besorg op kantoor. Voor dagbreek is Neels op pad om op sy gemak teen sesuur voor Dirk se hek te wees. Maar die noodlot het anders beslis. Kwalik vyf kilometres voor sy bestemming val die koppelaarpedaal plat op die vloer. Amper skel Neels die werkswinkelvoorman wat nie ‘n splitpin behoorlik omgeknyp het nie; hy sal later met hom afreken.

In sy aktetas had Neels altoos die noodsaaklike byderhand en is vaardig genoeg om ‘n nuwe splitpin behoorlik vas te sit, nogtans verloor hy ten minste ‘n half-uur in die proses. Kwart oor ses stop hy voor Verster se hek, binne die werf gons dit van olie en ghries, wiele pomp en gewassery of dit die laaste dag is. Bo die ruising is Dirk se leeugrom duidelik hoorbaar.  Uiteindelik kom Kiewiet, die hekwag op sy tyd aangeloop na die toe hek en kyk skeef op na Neels.

Maak oop die hek, ek is laat met die nuwe lorrie, blaas Neels sy bevel. Kiewiet kyk skuins verby Neels en praat kwalik hoorbaar: die Oubaas hy soek nie meer jou lorrie nie. Baas Druk sê djy’s lat, hy doen nie bisnis met ‘n laatgat nie. Toe draai hy sy rug op Neels en verdwyn tussen die vloot lorries. Neels gaan troos hom by die vetkoekpaleis en kom tot besinning met sy tweede koppie boeretroos.

Basta, hy gaan terug en al moet hy die hek met die trok oopstoot, hy gaan  aflewer. Gelukkig het die hek oopgestaan om ‘n gelaaide trok uit te laat en Neels vat die gaping soos ‘n wafferse Tjol Lategan. Kiewiet skop verniet stof op toe Neels voor Dirk se kantoor parkeer. Hy klop drie maal en maak self die deur oop. Binne sit Dirk en sy drie seuns en gaap hom met breë glimlagte aan. Ek dag jy kom wragtag nie terug met my nuwe trok nie, sê Dirk. Nou weet ek en my seuns jy stuit vir geen duiwel nie, met jou kan ons besigheid doen. Uit pure verligting raak Neels se kniekoppe  los en hy strompel na die leë stoel by die lessenaar tot groot vermaak van sy toeskouers.

Jare daarna besluit Dirk om ‘n nuwe trok vir Herkie, sy stiefseun, te koop. Herkie was ‘n bedrewe lorriedrywer vir Dirk en die voorwaarde was dat hy alleen sy nuwe trok sou bestuur. Herkie het net langafstandvragte gegooi, daarom was sy trok die model met ‘n hoë dak en dubbel slaapkajuit.  Herkie se vroutjie was vyf maande swanger met hulle tweede en klein Dirkie, na sy oupa vernoem, was hulle trots en oogappel. Op sy derde langvrag besluit Herkie om sy gesin saam te vat, daar is oorgenoeg plek in die gerieflike kajuit, selfs lugversorging en ‘n wonderlike klankstelsel om na Miemie, sy geliefde, se gospel  bande te luister op die langpad.  Nou is die afstande  korter met die bruisend gelukkige saamwees. Miemie en Dirkie is in die wolke met hulle nuwe avontuur en Herkie se vaardige bestuursvernuf. Kort voor lank het hulle seshonderd sakkies sement afgelaai in Pongola en is hulle oppad na die suikermeule om vrag te laai.

Miemie en Dirkie lê rustig en slaap voor die son breek. Herkie kon tot vandag g’n rede of oorsaak gee van die tragedie wat hulle nes ‘n bliksemstraal uit die bloute  tref nie.  Die assessor se ondersoek dui ook op geen meganiese defek nie. Op ‘n naaldreguit  teerpad het die leë trok net koers verloor en hom te pletter gerol die skuinste af. Herkie en Miemie was gelukkig om die angsoomblik feitlik ongedeerd te beleef. Klein Dirkie het roerloos langs die wrak gelê, sy dowwe ogies starend na die Hemel. Dirk Verster het stiller en meer bedeesd geraak na die tragedie, hy het veels te lank gerou en kon soms ongemaklik aan’t ruk gaan en jammerlik snik.

Sy seuns het beheer geneem van die besigheid maar vir Dirk toegelaat om in sy groot kantoor te sit. Oorkant op die muur hang ‘n  landkaart met ‘n rooi kring wat die plek aandui wat hom smart aangedoen het, van sy oogappel beroof het. Bo-aan die kaart se spyker het  Dirkie se tekkies gehang, dieselfde wat hy nog aangehad het toe die noodlot toeslaan.

Op ‘n keer gaan Neels vir Dirk kuier. Dirk se volkophare is spierwit en hy sit regop in sy direkteurstoel. Dit was asof Neels en Dirk afskeid wou neem. Ewe skielik  begin Dirk weer liggies aan’t ruk gaan, amper soos ‘n voorwiel wat uit balans is. Hy veeg sy trane af en blaas sy neus soos die groot basuin. Draai om, kyk na die muur, beveel hy vir Neels: Daai paar tekkies wat oor die landkaart hang, is myne. Vat hulle vandag saam met jou en bewaar hulle. Die dag as ek gekis word, bring jy hulle na die graf. Net soos hulle my laat sak, plaas jy Dirkie se tekkies neffens op my bors. Ek gee jou die order want jy verdien dit. By jou het ek al my lorries gekoop. Ek vertrou jou, dis nes die laaste lorrie wat ek by jou koop.

Nou is dit Neels se beurt om onbedaarlik trane te stort. Hy het droefheid op sy pad teëgekom. Neels trek Dirk op en druk hom styf teen sy bors, hy streel oor die spierwit hare en soen hom kennelik op die mond. So het Neels vyftien jaar tevore sy pa gegroet. Kwalik twee maande later voldoen Neels aan Dirk se laaste versoek…

Hannes van der Westhuizen.

 

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

 

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button