Om van nature mededingend te wees en te soek na die volgende uitdaging het sinoniem vir Neels geword. Uiteraard is hy sportief gebore. Sy Oupa Johnny, stamboek blacksmid, het nie ‘n rugga game voor sy Pilot radiogram gemis nie. Toe Tom van Vollenhoven sy driekuns teen die Leeus behaal, wou ouma die ambulans ontbied soos oupa tekere gegaan het. Neels het darem die eerstes op hoërskool gehaal, hy was ewe tuis op nommer een of drie.
Neels ken ook tennis, krieket en golf net so goed as enige lorrie. Hy het altyd suiwer volgens die reëls gedruk en getekkel. Dog in die laaste kwartier van sy dekades-lange beroep word hy gedaag deur ‘n bemagtigings -skema wat opgerig is met die Regering, Banke en Voertuigverskaffers as balspelers. Steeds raak Neels kortasem en rooi agter die ore by die terugflits van waarskynlik die grootste fiasko in sy bedryf.
Neels praat eerder oor Elias Mofokeng wat tien jaar tevore skielik die deur in sy kantoor volstaan. Trots in tradisionele drag, kaalvoet, graskadot op die kop en torso bedek met ‘n regale Basoetoekombers. Elias se Engels het Cambridge stempel gehad. Hy weet wat hy nodig had en betaal vooruit op sy nuwe Paystar en dubbel-as wipbakleunwa. Die Riviera hotel op die rivier was vyfster en Elias nooi Neels vir middagete.
In daardie dae was net die duur hotelle gegradeer en oopgestel vir alle bevolkingsgroepe. Terwyl Elias en Neels onder die garnale wei, word die nuwe trok deur ‘n ring getrek voor aflewering. Diskriminasie het nie in Neels se woordeboek bestaan nie. Oosterling, Jood of Griek se geld was kleurloos en ewe goed. Elias se transaksie was oor die selfde streng fiskale kam geskeer as al die voorafgaande kopers in Neels se joernaal.
Dog die nuwe Bedeling het dit goedgedink om die vervoerbedryf toeganklik te maak vir die geoormerkte agtergeblewende sektor van die bevolking. Die droom, of te wel persepsie, van maklik en vinnig geld maak met lorries het soos ‘n skim op die horison gewink. Om vrag te vervoer word die droom van blink rykdomme ontsluit. Neels was deurweek van die wrede realiteite van gewaarborgde verliese wanneer ongeskoolde wiele onbeheersd rol. Hierdie miljarde mege-skema het slegs ‘n bona fide kontrak met EVKOM, SASOL of dergelike maatskappy vereis.

Indien die kontrak meer as een voertuig vereis het, was die glimlag breër op uitgehongerde verkoopbrigade se gesigte met die vooruitsig van buitengewone winsverdienste. Geen deposito, waarborge of bankstate was nodig nie. Daarby het die nuwe eienaar 10% van die koopbedrag as werkkapitaal van die KSOK ontvang. Die kersie op die koek was die 14% BTW wat sy bankrekening verder aangesuiwer het. Die aansoekers het uit alle rigtings en sektore begin toustaan, sommige met ‘n taxi vanuit ‘geordende plakkerskampe’.
Hierdie tragiese komedie se spoedige heengaan was gewaarborg. Is dit moontlik dat soortgelyke ondeurdagte skemas die demokratiese proses weer kan systap? Die terug- geneemde voertuie- kombinasies het hektare volgestaan Kort voor lank was die ontvangers van hierdie doodsroggelende skema se bank rekeninge uitgeput; die Engelse slaan die spyker op die kop met hulle wysheid van “easy come, easy go”.
Helaas is ‘n hersiene drakoniese kredietwet op die boeke geplaas. Reckless lending sou nie weer plaasvind nie. Vir Neels was hierdie SEB nagmerrie soos ‘n opponent in die skrum wat nie net skeef druk of byt nie,maar ook stink winde laat om die oorhand te kry. Neels se voortydige kritiek oor die skema se lewensvatbaarheid is skouerophalend afgemaak as dwarstrekkery. Gelukkig was daar ook suksesverhale in Neels se mondering. Mense wat die suiwere dissipline- vereiste in die sakewêreld en vervoerbedryf verstaan.
Menigmale is Neels al dieselfde vraag gevra: hoekom koop jy nie ook ‘n trok nie, kyk hoe welgesteld is jou kliënte? Dan het Neels net kop geskud en geglimlag. Weliswaar was hy in ‘n los vennootskap vir ‘n jaar of drie betrokke met ‘n groot sakeman. Die vervoergogga se giffies is toe geplant.

Met die SEB hulpskema afgekondig het die ratte in Neels begin draai. Onverwags maak Pietman, tegniese bestuurder van Triple G vervoer, ‘n draai in sy kantoor met opwindende nuus. Triple G se swart direkteur, Titus Baleka, kon ‘n blink kontrak bekom by ‘n reuse chemiese aanleg. Die driemanskap ondersoek elke detail van die kontrak saam met die CEO van die verskaffer. Pietman is die tegniese bestuurder en weet watter kant toe draai ‘n krukas, hoelank vat dit om ‘n knormoer te swaai. Hy en Titus , wil saam met Neels hierdie geleentheid aandurf.
Soos om soetkoekies te bak, werk Neels deur die kontrakdetail. Die winsgrenspotensiaal wapper soos die vierkleur voor hom. Binne weke is die vennootskap gestig en selfs ‘n bankrekening geopen. Die finansiering van sewe tankerkombinasies is kinderspeletjies, alles binne die raamwerk van die SEB program. Nou moet Titus sy kant bring met die ondertekende kontrak. Neels het die besigheidsplan opgerig en Pietman se oë glinster: elke lid kry ‘n geprojekteerde maandelikse pakket van sewentig velle plus jaarlikse winsdeling. Hulle drie gaan geskiedenis maak in die bedryf.
Na ‘n week kom Titus terug…. met ‘n verskoning. Die CEO is oorsee by die kongres maar kom voor die einde van die maand terug. Moenie worry nie, ek het met hom gepraat, daar’s nie haakplek nie: stel Titus hulle gerus en hy betaal sommer vir die middagete.
Gelukkig was elke greintjie detail van die hele petalje waterdig gehou. Neels het begin lont ruik. Arme Pietman was steeds trillend van opwinding om sy eie baas te wees. Na ‘n paar senutergende dae stel Titus hulle in kennis dat hy goeie en slegte nuus het. Die slegte nuus is dat die driemanskap nie die kontrak gekry het nie. Die goeie nuus is dat die kontrak aan Titus en die CEO se Beslote Korporasie toegeken is.
Verder word Neels ingelig dat hulle dieselfde fabrikaat trokke teen ‘n beter prys by die hoofhandelaar gaan koop. Skielik verstaan Neels die geskiedenis van Piet Retief en Dingaan asof hy ook in Mgungundlovu was. Tieties, of te wel Titus, sou in elk geval sy blaker sonder ‘n spieël sien toe die wêreld-ekonomie ineenstort, kwalik ses maande na sy minagtende bravade.
Snaaksgenoeg het Neels net ‘n wrang glimlag op die gesig gewys toe hy vir Vroutjie van sy onderonsie vertel. Weereens weet sy hoe om salf oor sy wonde te smeer: Toemaar ou grote, laat hulle maar die papwiele en haaijacks kry en tolhekke betaal. Jy is ‘n kampioen lorriesmous en jy’s myne.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
