BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Tenders, Voorleggings en Amathenda

Hy word versoek om sy tender met vyftig velle per voertuig op te stoot om sodoende hierdie verhoogde som in kontant uit te keer aan betrokke partye!

Neels tuur oor die tydlose blou golwe en draai die groot horlosie terug. In sy tweede jaar as tegniese vervoer ingenieur word hy geskik bevind vir sy eerste vuurdoop. Na afloop van die maandvergadering wink die verkoopbestuurder hom na sy kantoor. Tevore het van Neels se eks-kollegas ook dieselfde dringende gebaar gekry en na ‘n paar onrustige oomblikke met ‘n rooigesig op die grond uit die beneukte man se kantoor gestrompel.

Inderdaad word hy aangeprys oor sy stiptelikheid, toewyding en lojaliteit as ‘n bekwame balspeler in die span. Die opdrag, vuurdoop is as volg: Daar is ‘n dringende tender by die Goudstadse Munisipaliteit vir slegs een voertuig. Wys wat in jou steek en kry hierdie keer die bestelling. Ons het talle kere  tevore  al probeer, sonder sukses.

Wees uiters noukeurig met jou berekeninge en studeer die spesifikasie sorgvuldig. Die winsgrens moet kompeterend laag bereken word anders verloor ons op prysskedule. Oor drie dae sluit die tender, merk die bestuurder nonchalant op.

Voor die horlosie regop staan, is Neels terug met die tenderdokumente. Ou arend-oog gee hom ‘n plathand karplaks op die blad: ek hoop nie jy het spoedkaartjies versamel nie. Onversteurd werk Neels naarstigtelik deur die statutêre afdelings en merk met ‘n ligte potllood waar die direkteur en bestuurder moet onderteken. Die ses by vier voorspanmotor in hulle huidige voorraad word gereserveer vir die tenderuitslag. Hierdie is sy eerste tender en Neels slaan haksteen in die grond asof hy weer in ‘n titaniese stryd betrokke is in ‘n bekereindstryd. Hierdie een gaan nie wegkom nie!

Pixabay

Vroeg op kantoor doen Neels die finale afronding aan sy werkstuk. Die tender se sluitingsdatum is vandag. Hy wag die bestuurder in met sy finale produk. Nou wat is die dringendheid nou, die afsluitdatum is eers more, is die reaksie wat Neels ontlok by Meneer Ongeduld. Neels druk die dokument se voorblad onder die bestuurder se neus. Nou waarom het jy my nie gister ingelig nie, dan kon iemand jou bygestaan het. Onnodig meneer, ek het hom drie maal deur gewerk, daar’s nie kinkels nie, meneer kan maar teken en verseël. Ek sal lank voor twaalf-uur inhandig.

Die munisipale raadsaal is ‘n bynes van selfversekerde gesoute tenderaars. Met die oopswaai van die sydeur raak die raadsaal stil. Die tenderbeamptes dra swaar aan pakke verseëlde koeverte. Die koeverte word losgemaak en alfabeties gerangskik. Dis opmerklik hoe onbenullig Neels se skraal foliogrootte koevert vertoon teenoor die ander aanbieders se lywige dokumentasie. Uiteindelik raak die koevertmes doenig in bedrewe hande terwyl een na die ander aanbod in dralende dowwe reëlmaat afgelees word.

Ten laaste kom Neels se koevert aan die beurt. ‘n Dosyn en ‘n half paar oë draai in ongeloof na sy kant. Met groter duidelikheid en klem word sy tender en voertuigspesifikasie voorgelees. Almal wag angstig vir die prys.

Grootoog word die prys aangekondig: Vier-en dertig-duisend agthonderd drie-en-veertig Rand… lang asemteug; sewe-en-dertig sent. Tot nog toe is die finale prys net in Rande getender, Neels het hom gefinetune tot op sente. Die raadsaal ontplof in bulderende lagbuie. Selfs die beamptes het luidrugtig en lustig saam geskaterlag. Neels is nie op sy bek geval nie en toe die raadsaal tot bedaring kom, steek hy sy hand omhoog. Meneer die voorsitter, vergun my die geleentheid om die prys te verduidelik, asseblief? Daar was geen beswaar nie.

Neels kyk sy opponente vierkantig in die gesig en maak keel skoon: Neem asseblief kennis dat my produk elke sent in die Rand werd is, daarom het ek elke sent se waarde weergegee, niks afgetrek of bygetel nie. Die Munisipaliteit kry waarde vir elke sent wat hulle betaal. Selfs die tenderbeamptes is vir die oomblik stomgeslaan. Neels se opponente kyk nou anderpad. Waar kom hierdie knaap vandaan, wonder hulle. Twee weke daarna kry Neels ‘n verseëlde koevert, vir sy aandag alleenlik. Die bestuurder  oorhandig die koevert en order Neels: maak oop dat ons kan sien. Neels se behendige vingers weet hoe om ‘n koevert netjies oop te maak, hy loer na die belangrike paragraaf en plaas die brief terug in die koevert.

Pexels

Hy gee hom terug vir die bestuurder: kan meneer dit hardop vir die kantoor lees, asseblief. Ek is te aangedaan, my stem sal wegslaan as ek die uitslag lees. Uitdrukkingloos luister Neels na die bykans millitêre stemtoon wat met nadruk elke letter losknoop. Dit was die deurbraak vir hulle maatskappy by die Munisipaliteit van Johannesburg, ‘n jaar voor die Carlton Sentrum opgeskiet het as die hoogste wolkekrabber in die Suidelike halfrond.

Sedertdien het die meeste dinge verander, duurder en soms meer effektief geword. Selfs sakereëls is aangepas om tred te hou. Tenderprosesse het ‘n nuwe baadjie aangetrek. Neels word aangetree deur ‘n jonger kollega wat in sy skaduwee loop. Wanneer hierdie navolger onseker was oor ‘n trok-applikasie of grys gebied, dan skakel hy sy mentor. Neels was ast’ ware die ongeskrewe Google op sy gebied. Nou bevind hierdie jonger garde hom in ‘n tenderdilemma en Neels moet raad gee. Sy tender vir drie 14000 liter watertenkers is op die kortlys en hy is deur die afdelingshoof van die betrokke instansie genooi om ‘detail’ te bespreek alvorens hy toekenning ontvang.

Hy word versoek om sy tender met vyftig velle per voertuig op te stoot om sodoende hierdie verhoogde som in kontant uit te keer aan betrokke partye! Neels se verwysing was kortgebonde: Moet jou nie skuldig maak aan bedrog nie, uiteindelik wag die tralies vir sulke manne.

Kort en kronkelpaaie was nie deel van Neels se mondering nie. Klinkklare deursigtigheid verseker langtermyn oorlewing vir die lorriesmous.

In die laaste paar kwartale van die eerste dekade van die nuwe millennium stort die wêreld-ekonomie ineen. Selfs Neels was dit nie te wagte nie. Die swaarvoertuigbedryf het met meer as sestig persent gekrimp. In die goeie tye het Neels korttermyn befondsing gebou vir moeilike dae vorentoe. Na drie maande se geploeter het Neels met een oog oop begin slaap. Toe reik die plaaslike streeksmunisipaliteit ‘n mega tender uit.

Hulle was op Neels se portofeulje en het op klein skaal in die verlede tenders toegestaan. Neels werk deur die voertuie lyste op die tender en besluit om fokus in te stel op meer as ‘n dosyn tien kubieke meter wipbaktrokke. Hy het ‘n voorliefde vir tippers gehad. Aangesien die tender eers toegestaan word ses maande na indiening, moet die prys vasgestel wees. Die verskaffer beveel aan dat die verkoopprys met 3.5% gelig word. As veiliger buffer lig Neels die prys met 5%.

Teen die tyd dat die tender uitgereik word, besluit die verskaffer om alle konstruksievoertuie te subsidieer met ‘n addisionele korting van 5%.

Weliswaar was daar geen prysstyging in hierdie maak of breek resessie periode nie. En so word die goeie nuus per koevert op Neels se lessenaar afgelewer in die hartjie van die winter. Die tender vir 16 tippers is aan hom toegestaan. Neels het sy deur toegetrek en vir lank met toe oë en geboë in dankbaarheid geprewel. Hierdie wolkbreuk van seëning het verdere transaksies ontketen. Juliemaand, in die hart van die grootste resessie in Neels se lorriesmous-geskiedenis, het inderdaad ‘n monument geword van die grootste produksie in een maand, gelykstaande aan die jaarlikse wins van ‘n goeie lorriesmous. Dog in elke kelk uithaler wyn is daar soms meer as ‘n druppel gal. In die daaropvolgende maand, slegs tien dae voor aflewering van die tippers, raak Neels blind in sy linkeroog… permanent, tot vandag toe. Gelukkig kan hy die uitgestrekte blou waters en helderskoon lug sien met sy regteroog wat oorleef het.

Neels se heel laaste tender was aan ‘n klein plattelandse dorpie verskans tussen die skilderagtige klein Drakensberge. Hierts! ‘n Voor op die wa brander ruk Neels uit sy rotssitplek en waarsku dat die gety alreeds opgestaan het. Anderdag sal sy gedagtevlugte die jaarlange sage van die vuurvretende rooimonster uitrafel. Nou staan die branders hoog met bulderende skuim en die son trek water. Hy groet die blou waters en strompel teësinnig huis toe oor die duine.

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

 

 

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button