Vanoggend kir die bosduiwe opwindend met die eerste strale oor die laning dennebome. Een dag op ‘n slag is Neels se benadering terwyl hy vroegmore op sy patio hom genotvol verlustig aan ‘n beker Boeretroos. Hier neffens die kabbelende Kliprivier het hy vereers alleen nes geskrop op sy eie stellasie. Dis nie nodig om aan enigiemand te verduidelik dat hy vroeg, laat of enigsinds huis toe kom nie. Soos gister onthou hy hoe Fred jare gelede vir sy vrou gesê het hy sal oor ‘n uur tuis wees. Die manne was in die raadsaal besig met ‘n jolige funksie en Fred was een van die voorbokke.
LEES MEER OOR DIE LORRIESMOUS HIER
Hy kon die telefoontrieng perfek na-aap. Op hierdie kritieke aand laat hy die telefoon onverwags lui om dan grootmeneer aan te kondig dat sy vrou alweer lastig raak. Dan antwoord hy driftig, tot almal se vermaak, dat hy huis toe kom wanneer hy klaar gekuier het! Sy woorde was skaars koud toe lui die foon regtig en dit is Fred se vrou aan die anderkant. Hy moes al ‘n uur gelede by die huis gewees het. Mens kon sweer sy staan in die deur so duidelik swiep haar sweepslagstem deur die telefoondrade. Fred het soos ‘n skim verdwyn en drie dae later met ‘n siekverlof-nota by die kantoor opgedaag.

Neels gooi twee groot hande geelmielies vir die duiwe voor hy afsit kantoor toe. Tog raak hy nostalgies as hy ‘n paartjie duiwe op hul eie tak vir mekaar sien pronk en kir.
Dis die eerste Dinsdag in November en die jaar staan einde toe. Die ekonomie het heeljaar wipplank gery tussen verhoogde rentekoerse en skommeling in die globale valutamark. Soms voel Neels doelloos rond geslinger in die onsekere golwe van die geldmagnate se duistere netwerke. Hy was in Julie uitgenooi na die Bokryers se losie om die radar van nader te besigtig. Sy stoere vader het ‘n almintige stok in die speke gesteek: Bly weg van hulle my seun. Sonder om vir ‘n verduideliking te vra, het hy sy pa dankie gesê en hy kon gerus slaap. Alvorens hy weer duiwe hoor kir, raak Neels ernstig aan’t werk met gister se kwotasies.
Hy weet van kwotasies doen. Vir elke tien indienings is die gemiddelde kolskoot ‘n tamaaie vyftien persent! Selfs hierdie harde statistiek ontsenu die lorriesmous glad nie. Hy was fluitfluit besig aan nommer drie toe twee hande op sy lessenaar neerklap. Hy het nie Kontani sien insluip nie.
Hokaai vereers met jou kwotasie tydmorsery, grom hy in sy rasperstem. Dis jou blink Dinsdag vandag. Ek kom koop twee bulperde by jou, finansiering klaar gereël by die bank. Dis nadat ek vir Gousie, die bankbestuurder, gisteraand ore aangesit het by die Watergat. Die laaste honderd en een spel was hierdie transaksie op die spel. Hy dog ek is kapoet met vyf-en-sestig oor en hy kort net dubbel tops, toe wys ek hom hoe kan Kontani shangai vir twee perde.
Die dokumentasie is opgestel en behoorlik onderteken so ’n half-uur voor middag-ete. Kontani maak toe die mees ingrypendste voorstel sonder dat Neels of hy die implikasie daarvan kon besef: Kom ek en jy vat jou kar en dan ry ons stadig deur Voortrekkerstraat, die bankmeisies soek nou varslug as hulle shopping doen. Neels veto Kontani se onnutsigheid en stel voor hulle gaan Burgerboks toe, hulle blondies is tops. Terwyl hulle ewe deftig ge-Rayband in die Granada deur Voortrekkerstraat aankruie, gooi Neels skielik ankers voor die Union hotel. Neels verduidelik aan Kontani dat hy op sy rekening kan feesvier want hy het dringende sake oorkant die pad.

Kontani wou nog protesteer maar Neels help hom uit en glip soos wafferse Mannetjies Roux oor die straat. Hy loop statig Gert de Bruin se skoenwinkel binne en beduie dat hy veldtekkies soek. Uit die hoek van sy oog hou hy haar dop. Sy is die oorsaak dat hy van Kontani ontslae moes raak. ‘n Lang lenige swartkop wat weet hoe om op selfs ‘n sypaadjie te loop. Toe sy by Gert se winkel instap, parkeer die Granada vanself! Sy sit netjies op die lae bankie terwyl die verkoopassistent die een na die ander swart hoë hakskoentjie aandra. Neels vertel Gert van die dame se dilemma en vra hom vir die duurste en luukste damesskoen in sy voorraad. Gert lees Neels se gedagtes en bring ‘n doos met prima Italiaanse skoeisels na vore. Gert waarsku hom dat hierdie Bally pronkstukke gelyk aan ‘n gewone man se salaris is. Neels vat die duursame offer en loop doelgerig na die swartkop wat opstaan toe hy teen haar te staan kom.
Verskoon my Dame, ek is Gerhardus Venter, streeksbestuurder van Bally skoene, lieg hy onbeskaamd. Hoe lyk hulle vir jou? Fantasties Meneer, maar ek kan hulle nooit bekostig nie. Juffrou, ek wil hulle nie aan jou verkoop nie, jy moet hulle net aantrek en voel hoe loop die Ballys. Ek wil net jou eerlike en eerste indrukke hê. Dis belangrik vir ons maatskappy om te peil waar ons produk se mark geleë is. Kom sit weer dan help ek jou voetjies die skoentjies in.
Neels hurk langs haar en voel die kraggolwe tril gevaarlik deur sy lyf. Voor jy loop wil ek jou naam weet, korswil Neels. Loretta meneer, almal noem my Lulu. Neels bied sy hand aan en Lulu trek haar liggies op.
Neels staan netjies opsy en beduie dat Lulu moet stap. Klein afgemete geoefende tree en dan ‘n skielike sierlike draai wat Neels se asemteue deurmekaar krap. Sy loop op Neels af wat haar vra om nog ‘n slag dieselfde trippelgang te doen. Hy wil net seker maak sy maak seker hoe loop die Bally produk. Lulu knik instemmend en begin haar trippelgang soos ‘n stamboek Arabiese merrie. Neels se oë is vasgenael op haar uitlokkende bewegings. Lulu raak bewus van Neels se bravade spel en stop vlak teen hom.Hy trek haar ligies teen hom en fluister: Bally skenk hierdie polfaaie aan jou, hulle is vir jou gemaak. Hulle oë ontmoet in stomende emosie en Lulu soen Neels vol op die mond. Sonder blik of bloos vra hy om haar vanaand te onthaal. Lulu se wimpers fladder instemmend en haar handpalm veeg Neels oor die wang; al trippelende in haar blinknuwe polfaaie.

Die maan blink vol en hoog in die wolkelose voornag. Neels en Lulu wandel hand in hand gevleg onder sy lowerryke dennebome.Vanaand het ‘n liefdesfees vir hulle geword. Hy het haar vertroetel met uitgesoekte eetgoedjies en die Prins van Chardonnay, afgekoel vir die soele genot van die aand.Hulle oë bly vasgenael aanmekaar terwyl elkeen sy hart uitstort. Neels se befaamde klankstelsel sou hulle neem deur die sestiger jare, die opwinding van Montivani se acupulcos en Strauss se Weense walse. Hulle het soms aanhou dans lank na die musiek stil geraak het. Dan het hulle tot verhaal gekom, stomend inmekaar gevleg met liefdesdrif.
Terwyl die maan vir hulle knipoog, raak sy Neels se lippe aan met haar hand: Ek wil jou iets sê, ek gaan dit sê, van die eerste oomblik toe ek jou in die skoene-episode sien, het ek, Loretta Marais geweet…Lulu se stem raak sagter, het ek geweet jy is my trouman…
Neels reageer asof hy die bal ontvang met ‘n oop doellyn voor hom. Kom hier, prinses van my hart! In een beweging raap hy haar van haar voete en dra haar oor sy drempel en plaas haar versigtig neer op sy kraakvars wit lakens. Dwarsdeur die klein kort uurtjies voor die son deurbreek het hulle liefde oor hoë golwe gewoed. Voor die eerste sonstrale hulle glans aankondig staan hulle saam in Neels se stortbad. Hulle was mekaar met diepe genot en belofte in hul nuut gevonde liefde.
Dit was inderdaad die blinkste Dinsdag in Neels se mondering. Sy voete is in ‘n helder oomblik onder hom uitgehaal. Nogtans het hy die bal onder die pale geplant, die wendrie van sy lewe. Lulu en Neels is ‘n paar dae voor krismis in die huwelik bevestig. In ‘n historiese kerkie in Kaapstad het hulle die knoop deurgehaak. Tot vandag kir en pronk dieselfde paartjie op hul eie tak.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
