BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Sukses met Lof Geslaag

Nollie se groot trots was egter sy standard ses sertifikaat, duursaam geraam en gehang bokant sy direkteurstoel.

Aan die Vrystaatkant van die Vaalrivier het Arnoldus Truter kom fortuin soek in die sestiger jare. Hy was kwalik agtien en was gewapen met slegs ‘n standard ses sertifikaat. As kind het hy swaar tye geken in die Brakrivier omgewing. Om ‘n sjieling te verdien, moes hy die hele week winkelvloer skrop en rakke pak. Terwyl hy so hande viervoete  die vloer skrop, sal ‘n moedswillige bruinjong oor sy enkel strompel om moles te maak. Dan moet hy buk vir drie van die bestes tot groot vermaak van die toeskouers.

Vir sy ousus wat hom grootgemaak en ten laaste in ‘n buitekamertjie laat bly het, het hy ‘n kort notatjie gelos: ek gaan weg.

Met rugsak gepak en sewe en ses in die broeksak is hy aan’t voetslaan voor ligdag. Op die derde dag kom hy by die woelende fabriek uit. Hier word petrol uit steenkool gehaal! Die inligtingsbeampte stel voor hy moet by die Indaba hotel aansoek doen, die fabriek se minimum vereiste is standard agt.

Mnr Bruwer, Indaba se eienaar, luister na die jongman se rede en stel hom aan as leerling kroegman. Kort voor lank word Arnoldus gedoop as Nollie, raakvat skinker soos min. Na sewejaar agter dieselfde toonbank, ken Nollie elke greintjie van sy bedryf. Meneer Bruwer gee erkenning aan Nollie se stiptelikheid, behendigheid en produktiwiteit; aldus stel hy hom aan as Kroegbestuurder. Nollie dink nie meer terug aan die vernederende winkelvloere wat hy op sy knieë moes skrop nie.

Net een ding haper aan sy mondering, hy kry selde kans om aanloklike parfuum te ruik, ‘n sagte handjie aan te raak of deur die liefdesdrang se wilde gety oorrompel te word. Nollie was totaal oorbluf toe ‘n vooraanstaande  boer in die distrik hom uitnooi vir die naweek se groot makietie op sy plaas. Gelukkig was meneer Bruwer byderhand wat instemmend knik. Arnoldus Truter se toekoms sou handomkeer verander voor die jaar uitloop.

Pixabay

Dis ‘n dekade later en die Lorriesmous draai af na Donkerhoek, spogplaas van Truter Beleggings. Neels gooi oor na derde rat en ry die plaaspad sonder om stof op te skop. Die plaashek is oop en Neels parkeer reg langs die impossante werkswinkel en kantoorkompleks. Neels klim bedaard uit die trok terwyl die enjin rustig luier. Hy loop om die kragtige Amerikaanse perd en doen gemaak- inspeksie van die bande. Om die hoek verskyn ‘n kortman wat kersregop met vinnige tree nader hom.

Ek is Nollie Truter, gelukkig vir jou is jy vroeg vir ons afspraak. As ‘n man optyd by my aankom, respekteer hy nie my beperkte werksure nie. Soos jy agterkom, hou ek maar by die driepuntsterre.

Kom ons haak ‘n gelaaide 30 ton drie -as  leunwa en ons draai anderkant Heilbron sodat ek jou perd met reg kan takseer.

Nou is Neels in beheer en vertoon met trots sy vaardigheid met die kragtige perd. Nollie is uit die veld geslaan na die derde bult wat in vyfde rat mak gemaak word. Nollie wou eers beduie hulle moet omdraai maar stel voor hulle koop die beste biltong by Dons Barnard se slaghuis in Heilbron, nog so veertig kort myle verder.

Ondertussen vertel Nollie hom sy lewensloop en veral wat die aand met die dans op die groot makietie gebeur het. Luister mooi: na die jolige spitbraai en uitbundige grapmakery, roep die outydse konsertina die hele kaboedel na die groot stoor, die vaaljapie en drie jangroentjies netjies aan die kant staan gemaak. Die orkes was uit die egte tradisie en het almal se voete laat juk. Ek wou nog die vegterrein verken, toe val ‘n sagte handjie op my pols: ek hoop jou voete is net so flink as jou hande met die kelke, tart die gasheer, Serfaas Steenkamp, se dogter my.

Pixabay

En ons het gedans, vastrap, polka, sokkie en wals tot sonopkoms asof ons jare meer as dansmaats is. Maar die liefde kort nie oefening nie, hy was sommer net daar. Ek en Linda het nie gras onder ons voete laat groei nie. Nou vervoer ek steenkool en nog wat vir die petrolfabriek, dog ek slaan my dop steeds weg soos ‘n kroegman, ongesiens met een sluk. Met die stilhou voor die slaghuis bieg Nollie; hierdie meneer voel nie die vrag nie. Hy het jou ‘n arm vol lang biltonge verdien. Gee jy om as ek terug ratte gooi, ek ken lorrie dryf maar het nie ‘n laaisens nie. Dis in die haak, stem Neels toe.

Ek het ook nie ‘n kode elf nie, bieg Neels en hulle bulder tegelyk aan ‘n lagbui. Net voor toemaaktyd stop Neels by die kantoor. Ou dik Boetie, die rekenmeester, merk skalks op: Lyk my jy’t darem biltong by Truter Beleggings gekry vir jou dag se werk. Neels se bek is geolie: soos gewoonlik het jy weer bal aangeslaan en sommer rooikaart gekry. Nollie het sy eerste 350 perd by my bestel en my bedank met hierdie arm vol biltong. Hy sê op voorwaarde dat die dik seun net ‘n seningrige brokseltjie kry.

Nollie Truter maak die volgende dag ‘n draai by Neels. Hy wil net die sleutelpersoneel ontmoet en die atmosfeer kom toets. Einde ten laaste wil hy vergadering hou met die handellaarshoof en rekenmeester in Neels se teenwoordigheid. Laat ons mekaar reg verstaan van die begin af, hierdie is nie die laaste perd wat ek by Neels gaan koop nie. Indien daar misverstande, probleme of rooimiere inkruip in ons sakevennootskap, verwag ek antwoorde van net een persoon: dit is Neels. Hy sal na julle en my belange omsien. Ek verwag dus dat Neels my nuwe perd persoonlik by die  motoraanleg in die Kaap gaan haal. My voormandrywer moet saamgaan sodat Neels hom die fyner kunsies leer om hierdie kragtige perd te hanteer.

Daar is doodse stilte in die raadsaal toe Nollie sy laaste reël afkap. Almal knik instemmend en Nollie knipoog vir Neels toe hulle handskud by sy F250.

Met die opstyg van die 737 by Jan Smuts het die gordyn oopgeskuif vir ‘n ongekende avontuur in Neels se annales. Steeds hoor hy hoe Tobias in die agterbanke tekere gaan toe die ystervoël se wiele lug en hy neus in die blou lug steek. JOHO JOHO JOHOJOO !! protesteer hy op sy eerste vlug tot groot vermaak van die gesoute passasiers. Neels wink ‘n bekwame waardin nader en versoek haar om Tobias se stembande tot bedaring te bring met ‘n dubbel skoot lawaaiwater. Die drama wat in die volgende etmaal sou afspeel moet liefs oorstaan tot ‘n ander keer. Neels se arts het duidelik gewaarsku teen intense opwinding vir sy inwendige borskas-organisme, of te wel turbo aanjaer.

Pixabay

Ewenwel, Neels en Arnoldus Truter sou ‘n monumentale sakeverhouding oprig wat selde oortref word. In die bedryf het dit spreekwoordelik geword: Nollie en Neels is op pad, hulle is aanstons hier met ‘n kas witblits van die Klein Karoo. En dan moes die manne maar wag om met die verrigtinge af te skop. Neels die Lorriesmous en Nolle, alleen eienaar van honderde voertuie, grond- en mynwerkmasjienerie en ‘n reeks plase in sy skatkamers. Nollie se groot trots was egter sy standard ses sertifikaat, duursaam geraam en gehang bokant sy direkteurstoel. Die opmerking op sy pronkstuk verkondig duidelik: Standerd Ses, Met Lof Geslaag.

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button