Op die oewers van die Kliprivier loop menige spilpunte deur hektare groente wat welig groei onder hulle gereelde reënwolke. Om ’n koolkop af te sny is knie, rugbuig en behendige handewerk. Die malse koolkoppe word in kratte versamel, op ’n trekker se sleepwa gelaai en in die stoor verpak, reg vir die mark.
Koolkoppe, wortels, beet, spinasie, kropslaai en ertappels is hierdie twee boerseuns se alfa en omega. Hulle voordeel op die voorgee is hulle papai, uit Madeira afkomstig en kom trou toe met ’n boernooi uit Wes-Transvaal.
Hulle twee seuns se gene van hulle voorsate was duidelik waarneembaar.
Frankoes, die oudste was sy ma se kind, in lengte en postuur. Lamentro was ’n bloudruk van sy pa. Kort en bonkig, kon hy ’n ertappelmoer plant sonder om te buk. Matriek en soldaatopleiding afgehandel, maak hulle planne om hulle eie ding te doen. Wat anders kon hulle doen as om hulle eie groenteplaas te bedryf?

Die Lorriesmous bedink nog sy moeilike transaksie drie maande gelede met ’n taai plaasboer waar hy drie voertuie op twee nuwes moes inruil. Laas maand het hy twee van die pakket nuwe base laat kry. Nou is die transaksie se balans gelyk gebreek. Die potblou Sweedse model in voorraad is die sleutel tot die globale winsmarge.
Abie Goldstein, hoof-aandeelhouer het hom anderdag moed ingepraat oor die blou gedrog agter hulle heining. Moenie worry nie Neels, op ’n dag loop ’n Portugese man in jou kantoor en vra of jy ’n gebruikte Scania het. Abie se woorde was ’n voorspel vir die toekoms. Voor hom staan twee bruingebrande klonge in kakieklere en uitgetrapte stewels. Hulle aksent is nie suiwer Afrikaans nie en Neels se vermoede word bevestig toe hulle hom vertel wat hulle wil hê.

Daar is vyf hektaar koolkoppe op die land wat oor twee weke op die mark moet wees. Hulle het al ’n vyf-en-twintig ton leunwa met tralie sykante, al wat nou skort is ’n goeie, sterk gebruikte perd van ongeveer helfte van ’n nuwe se prys. Neels hou hom dom en vra of hulle enige fabrikaat in gedagte het?
Soos in geoefende duet tref die mooiste klanke Neels se ore: Ons soek al orals vir ’n ordentlike Scania. En watter kleur verkies julle, gooi Neels petrol op die vuur. Ons kleur is helder groen, soos jong ertjies voor die blom. Neels gaan gooi ’n draai saam met hulle in die mooiste blou trok wat hy nog ingeruil het. Die helfte deposito wat hulle in tjekbetaling aanbied verteenwoordig suiwer wins en Abie is tevrede om die balans oor twaalf maande te finansier, teen sy almintige rentekoers bygesê.

’n Week later word Neels agter diggetrekte deure aangespreek. Self hy is uit die veld geslaan met die nuus dat die twee broers se tjek rubberagtig was. Abie merk smalend op: Dis nou jou baby, jy wil mos net verkoop en ek moet finansier. Ek wil daai twintig velle vandag in my rekening hê. Abie is erg omgekrap en Neels stel hom gerus. Soos meneer sê, dis my verantwoordelikheid en voor toemaaktyd sal ek regmaak.
Daar is net een manier om hierdie tamaletjie te kou, ry deur na die groenteplaas en gaan haal ’n paar bossies wortels vir die huis.
Neels tref die broers aan terwyl hulle klaar maak om stad toe te gaan. Ek het net groente vir die huis kom bedel, lieg hy onderlangs. Nartjies, dis nou die jonger broer se bynaam, maak verskoning dat hulle op pad mark toe is. Neels sal later moet terug kom. Dis die gaping waarvoor Neels gewag het en soos Danie Gerber glip hy deur. Ek was lanklaas by die mark en dis julle gelukkige dag. My BMW is volgemaak en dan is ek julle chaufeer vandag, bied Neels die valstrik aan. Die ouer broer, Frammie op sy bynaam, knik instemmend vir Neels se aanbod. Oppad luister die driemanskap na Bles Bridges se snikkende klanke en spoedig parkeer hulle voor die markagent se kantoor.

Nou bieg die broers: ons kry vandag eers betaling om ons deposito tjek te dek. Geen probleem nie, stel Neels hulle gerus. Gelukkig is die tjek gereed en hulle is terug in die BMW. Frammie hou die koevert in sy hand vas. Nou is dit Neels se kans om strategie in werking te stel. Frammie, kan ek kyk hoe lyk ’n markagent se tjek, net vir ingeval daar iets sou haper? Die tjek is netjies en groot, amper vyftig duisend velle!
Nou vertel Neels die broers van sy dilemma met die Abie en dat hy vandag betaling van die rubbertjek wil hê anders anders lê hy ’n bedrogklag.
In daardie jare was ’n tjek wat vlieg as bedrog geag. Nou wat stel jy voor, vra Nartjies benoud. Hier gooi Neels die finale opstopper: Ons ry nou reguit na die Abie toe en julle teken hierdie tjek oor na hom toe. Ek sal seker maak julle kry die balans sodra die markagent se tjek deur is.
Die broers is tjoepstil en hulle loer ongelowig na mekaar. Weer antwoord altwee op gelyke maat: dan maak ons so. By Neels se werkplek aangekom, stel hy voor die broers wag in die BMW. Hy ken Abie se onbeheersde humeur in sulke gevalle. Hy stap reguit na Abie en tree hom saaklik aan met die voorstel sonder om die tjek te wys. Nou wanneer kry jy die sogenaamde markagent se tjek, vra Abie die goue vraag. Neels se oë dwaal na die plafon met ’n frons op sy gesig. Abie begin rooi raak en Neels trek die koevert uit sy binnesak. Abie sit sy knypbril op vir sulke geleenthede.

Na ’n tergende stilte kyk die Abie hom met ’n grynslag aan: Neels, jy is voorwaar ’n towenaar om alles te kroon. Vandag gee ek jou ’n bonus. Die saak is beredder, sonder prokureurskoste en tydmorsery. Neels maak verskoning dat hy die twee stout broers wat hulle hierdie nagmerrie besorg het, plaas toe vat.
Abie gee homself ’n stewige oorveeg om seker te maak hy droom nie. Oppad plaas toe maak Neels verskoning dat die broers so lank moes wag. As ek julle aflaai, kan ons eers julle katemba proe en dan kan julle die BMW se kattebak vol wortels, kropslaai, tamaties, uie en batatas laai. Neels is nou in volle beheer en gooi die ratte om die sessilinder saam te laat praat.

Hierdie was die begin van dertig jaar vorentoe se plesiere en ontberings. Frammie en sy geleerde vrou het Kanada toe getrek en Nartjies het die plaas en al sy implimente verkoop. Vandag het hy ’n spogvloot langafstand voertuie wat spesifiek oor die Noordelike grens vragte gooi en soms terugbring. Neels sal nooit Nartjies se sestigste verjaarsdagviering vergeet nie.
Dit was ’n uithanggeleentheid met sy familie en vriende wat verby middernag fees gevier het.
Net Frammie en sy vrou was nie daar nie en vele kennisse het aandoenlike spietse gemaak.Einde ten laaste is dit die man van die oomblik se kans om die laaste woord te sê. Nartjies loop met klein treëtjies na die mikrofoon en begin sy aandoenlike relaas van sy sestig jare op deeske aarde. Kortkort oorval die emosie hom en dan is sy sakdoek byderhand. Sy vrou begin benoud raak met: Asseblief pappa, dis genoeg… Dan kom hy tot verhaal en praat in ’n lae beheersde stem: Ek wil graag my beste vriend vorentoe laat kom. Laat Neels, die Lorriesmous, vorentoe kom. Neels se knieë is lamgeslaan en hy wens hy het sy erfstuk, pa se kierie, byderhand gehad. Hulle het niks gepraat nie, die oomblik was verbysterend. Hulle het mekaar net lank en innig vasgedruk.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
