BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Van moere en boute

Soos ‘n boer die veld, die grond en die seisoene ken; netso ken Neels elke moer en bout van sy bedryf.

Die werkswinkel is sprekend van ‘n vervoersaak se voorspoed of mislukking. Orde, netheid en dissipline gepaard met deeglike opgeleide tegnici is die sleutel tot gewaarborgde sukses. Soos oom Martin tereg opmerk terwyl hy en Neels tussen sy werksbanke stap: Op hierdie vloer het ek vir my Pa begin werk toe ek klaar met skool was. Hier het my opleiding met transport begin. Ek moes self leer hoe om ‘n moer vas te draai, die regte hoeveelheid olie in die enjin, ratkas of dif te gooi. Die belangrikste is gereelde ghries nadat die trok skoon gespuit is. Neels luister hoe Martin du Preez, ‘n forse lang knewel in sy vroeë veertigs, in sy diep stem prewel.

Pixabay

Toe hulle in die hoek tot stilstand kom, staan al sewe spannermanne op aandag om voorgestel te word. Neels skud ferm hand met elkeen en ‘n reguit kyk in die oog , die bewys van ‘n eerlike werker. Martin se stem laat die spanners weer draai en hy en Neels stap na sy stylvolle ruim kantoor. Hier klop die hart van sy besigheid. Martin grom binnensmonds toe hy Neels se bestelling teken vir drie nuwe Louisville perde. Net daar is die fondasie gelê vir ‘n lang en verreikende sake verhouding met vele vertakkings. Kwalik twee jaar later het oom Martin die daaglikse met die ewige verwissel. Gelukkig het Hannietjie, sy weduwee na Neels se raad geluister en nie verkoop nie. Sy het die ouditeur en ‘n gesoute transportman as vennote bekom en sodoende Du Preez Transport vir haar seuns se toekoms verseel.

Ses maande na Martin se begrafnis kry Neels ‘n onverwagte besoeker.

Neels is besig met kosteberekening vir ‘n kliënt en kyk kwalik op toe hy die stewige kort besoeker innooi. Dis Buks de Lange, een van die mekanieks wat oom Martin die dag in sy werkswinkel aan hom voorgestel het. Buks se bynaam was ‘domkrag’ omdat hy so sterk as ‘n kruk-as was. Nou is Domkrag netjies en kraakvars aangetrek en verduidelik dat hy die dag vakansie gevat het om sake met Neels te bespreek. Neels is uit die veld geslaan toe Buks hom sy planne meedeel. Hy het ‘n kontrak by oom Sakkie by die staalfabriek bekom en hy moet drie 25 tonners koop. Neels val hom in die rede met die waterskeidende vraag: Moet ek jou finansiering reël? Allermins, spoeg Domkrag die antwoord uit. Sy oom en swaer is groot boere in die Riemland en is in vennootskap saam met hom. Die banke staan tou om geld voor te skiet.

Om sake te finaliseer moet Neels die voorlegging op die plaas doen. Dit laat Neels net die oorskot van die dag om ‘n sakeplan op te stel vir voorlegging op die plaas. Buks trek die kontrak uit sy portufeulje en plaas dit netjies op Neels se lessenaar; ek los hom in jou betroubare hande. Ons afspraak is more-oggend op die kop om 10. Hulle plaas se naam is BETYDS. In die meeste gevalle was selfs die reen op tyd. Betyds is net ‘n honderd kort myle van Neels se kantoor.  Met ‘n kwartuur in die bank, draai Neels en Buks af op die plaaspaadjie, die opstal; omring met wilgerbome, in sig.

Pixabay

Hierdie boere was voorwaar ingerig vir ‘n geleentheid. ‘n Half dosyn boere uit die omgewing en hulle gades is alreeds gemaklik geplaas in die skadu van die lowergroen akkerbome. Oom Lewies en sy seun Pietman sit vooraan by die tafel met die mikrofoon en klanktoerusting. Neels en Buks word vorentoe gekommandeer en dan volg die bekendstelling van die indaba. Sonder om keel skoon te maak, neem Neels die mikrofoon en staan doodstil en betrag die akkerboom se forse stam. Plotseling  bars hy los met ‘aanstap rooies’ in sy kragtige tenoorstem. Hy gee volle uitdrukking  aan ‘en laat julle kwassies swaai’ en sluit af met ‘en laat die wiele draai’ wat hy driemaal herhaal.

En dis presies waaroor ons gaan koppe kloof: hoe word wins gemaak deur vragte te vervoer, die wiele te laat draai; begin Neels op rotsvaste noot.

Soos ‘n boer die veld, die grond en die seisoene ken; netso ken Neels elke moer en bout van sy bedryf. Almal teenwoordig sit met gespitse ore en vat lang teue aan Neels se berekeninge en is half verleë en jammer dat hy so kort en bondig die saak voorgehou het. Nou maak hy met reg keelskoon en korrel reguit op die man af: Indien daar enige onduidelikhede bestaan oor die winsgewendheid van hierdie spesifieke transaksie waar drie perde met drie-as platbak leunwaens aangekoop  word, sal ek die troebel waters suiwer. Sonder om die mikrofoon te vat trek Oom Lewies en Pietman ses van die beste vonkelwyne nader en skiet een na die ander prop die lug in. In sy rasperstem kondig die oom trots aan: Ek, Pietman en Buks het sopas die wiele laat draai. Op sy beurt verduidelik Buks dat hy verantwoordelik is om die moere en boute vas te draai en die wiele te laat rol. Oom en Pietman kan soos gewoonweg boer, ek sal die vragte gooi. Hoog word die kelke geklink en die feesmaal begin in eg Vrystaat tradisie.

Pixabay

As deel van die tradisie kry Neels erkenning met ‘n prima verpakte lam vir sy eie verbruik. Na die bedankings en die son wat begin water trek, wuif hulle die ruggraat van die landboubedryf tot weersiens. Oppad terug is Neels en Domkrag traag om te gesels. Die skoot is reguit afgetrek en die blesbok is afgeslag. Nogtans praat Buks half onderlangs: Neels, nou weet ek waarom Oom Martin sy lorries by jou gekoop het.

Buks se sake het klopdisseboom gehardloop vir die eerste drie jaar. Daarna het die ekonomie begin wipplank ry en knarsend halt geroep. Die staalbedryf was voor in die ry om pakslae te kry. Selfs oom Sakkie by die staalfabriek is afgelê op vroeë pensioen. Met ‘n verslae uitdrukking tussen die oë staan Domkrag in Neels se kantoor. Hy bring slegte nuus: Sy oom en swaer wil hê dat Neels hulle lorries moet verkoop. Punt. So gou as moontlik asseblief.

Die wins wat uitkom sal tussen hulle drie verdeel word en jy sal weer ‘n lam kry vir die pot.

Neels spreek sy medelye uit met die heengaan van Domkrag se droom. Hy wag tot oom Lewies na twee weke kom kuier om te verneem wanneer hy hulle lorries verkoop. Neels skilder die droewige prentjie van die ekonomie, hy het ook nie skotvry ontsnap nie. Hy het egter gister ‘n aanbod gekry wat ‘n wins van amper honderd en vyftig duisend uitgooi nadat die uitstaande balans by die bank vereffen is. Oom Lewies raak driftig: Nou waarvoor wag jy, waar moet ek teken? Die transaksie is afgehandel en almal is met bree glimlagte uitmekaar. Selfs die Lorriesmous het in die mou geglimlag. Kobus Strachan van Malelane het die drie winskope opgeraap en sou self hoë kante opsit om sy lemoene mark toe te ry. Kobus het Neels volgens hulle ooreenkoms regmatig beloon.  Die skapie uit die Riemland was nie te versmaai nie.

Wat van Domkrag geword het, is ‘n lang storie. Die belangrikste is egter dat Neels en Buks steeds hoë agting vir mekaar het. Hulle is albei soos twee lorries wat berge vragte geskuif het, effens aan die tenger kant maar glad nie uitgedien nie.

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button