Oorkant Neels sit ‘n aspirant lorriesmous kersregop met ‘n verdwaasde vraagteken op die voorkop. Meneer wil weet waarom ek ‘n loopbaan kies om lorries te verkoop? Dis reg, ja. Ek wil weet waarom jy die bankwese verruil vir my beroep, herhaal Neels sy vraag aan die amper dertig jaar oue jongman. Ewenwel, vir my hoef jy nie te meneer nie. Ek is ‘n gewone lorriesmous en jy moet net die Bestuur as meneer aanspreek.
Die personeelbeampte het ‘n ooreenkoms met Neels aangegaan om hom by te staan in die keuringproses van aspirant lorriesmouse.
Neels beskou hierdie takie as noodsaaklik want hy het tevore met kansvatter kolegas swaarde gekruis. Wanneer Neels dan die groen lig gee, word die nuweling onder sy vlerk geplaas vir praktiese opleiding en evaluasie. Uiteindelik is Martin, die aspirant, klaar keelskoon gemaak en begin sy relaas. Ek het ‘n ingebore passie met groot trokke wat swaar vragte teen steil bulte trek.

Neels besluit amper die jongeling moes eerder ‘n digter wees. My skoonpa het drie tippers gehad toe ek na sy dogter gevry het. Ek en sy het Sondagmiddae wegkruipertjie tussen die lorries gespeel. Hierdie is ‘n jongman wat die goeie in die lewe waardeer. Hou aan praat, ek luister, por Neels hom aan. Die werklike rede is egter heel eenvoudig. Ek wil geld maak! Martin is die eerste aansoeker wat die spyker op die kop slaan.
Neels skud hand om hom geluk te wens en sou later uitvind dat Martin Naude die bal uit ‘n losskrum kon uitgrawe so goed soos Jan Ellis in sy jong dae. Janee, hier maak ons geld vir die besigheid, die koper maak geld met die optimale trok vir sy applikasie wat hy by ons koop en die lorriesmous verdien sy regmatige vergoeding. Sukses val nie uit die lug nie, jy moet vasberade en doelgerig die bal speel. Hier speel ons die game om te wen, al raak hy hoe taai. Martin het ‘n bewese sukses geword.
Die ongewone en onverwagte kon ook toeslaan sonder enige aanduiding. ‘n Eenmalige natuurfrats het ons dorp in die maand voor Kersfees van die midde tagtiger jare getref. Neels dog eers die ligbuis in sy kantoor is besig om die gees te gee. Terselfdertyd sweepslag ‘n rukwind oor die dakplate.
Dan volg die een donderslag- salvo op die ander, mens sou sweer Tchaikovsky se agtien twaalf kanonne trek los uit die Weste. Abie laat nie op hom wag nie en maak besigheid vroeg toe, almal moet vroeg huistoe om die stormdraak se kloue te ontsnap.
Op pad huis toe kan Neels sy oë nie glo nie: Die rollende wolkmassa het bo-oor Sonlandpark en Falcon Ridge gaan lê. Die rooiblitse flits en krul aaneen onder begeleiding van die donderende kanonne. Hierdie twee voorstede is oorgegee aan ‘n langdurige wolkbreuk met tamaai haelstene en verwoestende rukwinde. Die topografie het dit so bepaal dat die gevolglike water edeem die middedorp en omliggende gebied teen laataand bestorm het. Neels en Abie se sakeperseel was in die aanstormde watergewelf se pad na die rivier toe.
Die volgende dag was die paaie ‘n vaalbruin papperysel. By die werk tref Neels vir Abie met ‘n verslae uitdrukking en hangskouers tussen die verwoesting aan. Neels probeer hom opbeur met die gerusstelling van die versekeringsdekking. Dis juis die ongeluk, verduidelik Abie: drie maande gelede het ek die waardes hersien… met tenminste twintig persent laat daal. En daar staan jou nuwe vierhonderd perdekrag pragstuk, die silt was tot bokant sy stuurwiel. Wat gaan ons maak? Ons gaan geld maak, meneer; herinner Neels hom sonder aarseling. Vir die res van die jaar was skoonmaak, herstelwerk en beplanning hulle voorland. Die vierhonderd perdekrag bulperd het deur diepwaters gegaan en moes asteware hergebore word.

Vroeg in Januarie staan die blinkpragstuk in die vertoonkamer en flickers gooi. Asof genooi kom Rooies Parks en sy seun die middag kuier, nuwejaarswense oor te dra. Neffens die trotse perd gooi hulle ankers en streel oor sy blink kajuit. Rooies is die derde geslag na sy oupa die slag van Majuba oorleef het. Hy sit nie ‘n voet verder na Neels se kantoor nie en trompetteer: My seun trou volgende maand en ek soek al lank vir ‘n geskikte geskenk. Bring jou kamera dan neem jy vir Jors af lang sy nuwe perd.
Neels skud blad met Pa en seun en vra: Rooies, jy wil seker die prys weet? Nou hoe anders, wil jy hom vir Jors pasella gee? Nee, nee, nee; ek gaan dit net baie gerieflik maak vir die groot geleentheid. Nou laat ek hoor, Rooies geniet die opwinding. Neels begin op afgemete toonmaat: Ses maande gelede wou jy twee gebruikte kole-kombinasies inruil op twee nuwe perde. Daarvan het niks gekom nie. Nou kan ons die perde stal toe bring. Ek vat jou twee gebruikte koolkombinasies en al wat jy my skuld is veertig duisend rand.
Rooies kan sy ore nie glo nie want ‘n nuwe perd kos bykans honderd en dertig velle!
Neels ruk hom uit sy trans met die vraag: is jou tjekboek in jou binnesak? Haal hom uit anders verander ek van gedagte en besef ek is besig om jou ‘n guns te bewys. Soos blits haal Rooies sy tjekboek en Parkerpen uit en skryf die tjekkie uit. Die koopkontrak word deurgehaak en Neels groet Rooies en Jors by hulle F250 bakkie. Met die wegry skreeu Jors opgewonde: Dankie oom Neels! Terug in sy kantoor strek Neels hom behaaglik in sy direkteurstoel.

Abie het ongesiens ingesluip en vra hom die ongemaklikste vraag: Wanneer gaan jy profyt begin wys op jou kaviaar transaksie? Neels is nie op sy bek geval nie en laat waai met: Het meneer en Koos alweer kouekoors begin ontwikkel oor my transaksies? Luister nou mooi: Meneer is die eienaar, Koos verkoop die parte en trekkers; ek is die lorriesmous. Voor dit Herfs word, kan Meneer al die profyte bymekaar tel. Moenie skrik as swaar verdiende kommissie afgetrek moet word nie. Abie het met ‘n eerbiedige knik amper om verskoning gevra.
Vier dae later sit Bertus Wessels, eienaar van die steenmakery in Potch, in Neels se kantoor. Hy is ‘n man wat gereeld koop op veilings. Wat wil jy hê vir die semi en kalfie kombinasie? Met of sonder die perd, hou Neels hom half onnosel. Ek het ‘n splinternuwe perd op die nuwe meule se bankrotveiling gekoop. Nou soek ek net die treilers duf vir my oonde aan te ry. Ek wil nie graag my kombinasie breek nie maar sal jou ‘n redelike prys vra.
Slegs vyf en vyftig velle, dis net ‘n raps meer as die helfte van die nuwes se prys. En dan is hulle aflewering amper drie maande…
Bertus raak rooi om die ore want Neels het hom doodgevat in sy eie kwartgebied. Ek bied jou vyftig aan, probeer Bertus met veiling taktiek. Dan sê ek sestig, antwoord Neels ferm. Abie kom tussenbeide en kom tot Bertus se redding: Vyf en vyftig is ‘n raps meer as ons kosprys, doen jouself ‘n guns en handel die transaksie af op die pry swat Neels jou eerste gevra het. Ewe dikbek stem Bertus in en groet net vir Abie nadat hy die volle bankoorplasing gedoen het. Nou is Abie alleen in Neels se kantoor: Ons maak ‘n mean team, ek en jy saam in die span. Dis reg, sê Neels: onthou net ek is die kaptein van die span. Nou is ons nog net vyftienduisend in die rooi en buite staan ons profyt appels en wag om gepluk te word.
Abie roep Neels na sy raadskamer: Die wilgerbome op die rivier se walle begin al amper blare gooi en al wat ek aan dink is jou profyte wat in die jaart staan. Asof gestuur klop Fransina, die ontvangsdame, aan Abie se deur. Hier is ‘n kliënt vir Neels, kondig sy aan. In Neels se kantoor wag Abdul, eienaar van die muti shop in die dorp. Ek wil daai second hand perd en drie as trailer by jou koop. Wat is jou prys?

Neels antwoord hom met ‘n teenvraag: wil jy die kombinasie vir jou seun koop om sy plaasprodukte aan te ry? Dis die regte lorrie vir sy plaaswerk. Hoeveel deposit kan jy neersit?
Nou raak Neels stoomreg in die pylvlak. Ek kan vyf en dertig velle in kontant neersit. Goed, stel Neels hom tevrede, die balans kan jy my weekliks terug betaal voor Krismis. Hoeveel is die balans, vra Abdul smekend? Slegs vyf en dertig velle sonder enige rente. Neels ken van rente en die manne – Abdul kon nie staak om Neels se hand te skud nie, met traanoë van dankbaarheid is hy terug mutishop toe om sy deposit te gaan haal.
Abie se gelaat het heeltemal verander maar herinner Neels aan sy joppie om elke Saterdagmore vir Abdul in sy mutishop te gaan kuier. Abie is kennelik opgewonde oor die vooruitsig van gereelde kontantinkomste vir ‘n klomp naweke. Meneer moet net nie van my deel vergeet nie, herinner Neels vir Abie.
Die eikebome in Hertzogstraat het net begin verkleur toe ‘n Libanees van Benoni om die los perd met drie honderd perdekrag kringe loop.
Neels is byderhand toe die gestoelde snorman sy aanbod maak. Ek sal hom net so vat as sy prys onder vyftig is. Met ‘n pynlike uitdrukking op sy gesig antwoord Neels: Gee my drie en vyftig velle dan sit ek nuwe tekkies op jou perd. Die Libanees roggel van die lag en bedank Neels in sy vreemde klanke. Onder sy jas trek hy twee gelaaide banksakke uit. Abie is byderhand om sy vingers te laat werk. Hy bedank die Libanees in hulle eie taal wat baie eeners klink.

Die volgende more nooi Abie vir Neels om ‘n brekfis te geniet by die Riviera op die walle van Vaalrivier. Abie is ongewoon gemaklik en joviaal. Hy doen al die praatwerk en Neels luister net na wat saak maak. Abie herinner Neels weer dat hulle ‘n mean team maak, toe bedien die kelner die wors en eiers en sampioene. Nou kry Neels kans om sy gepaste woord te uit: Boerewors en kaviaar sal voortaan ons span se slagspreuk wees. Ons span verdien elke greintjie van die beste. Abie het hierdie keer sy kop met mening geknik: die kaviaar kan jy en jou vrou Saterdag by ons kom geniet. Met ‘n vraagteken op sy bles maak Abie ‘n vreemde opmerking: waarom is daar so min joodse lorriesmouse? Neels het sy kop net skuins geknik.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
