Aan die einde van die jaar, met die feesgety in sig, slaak menige sakeman ‘n sug van verligting. Die langafstandtrokke het meer as een stel bande afgeloop, derduisende bakstene is op boupersele afgelewer en berge riviersand is getiep vir betonaanwendings. Neels se kliënte het ‘n woelige jaar beleef. Dis selde dat die boere by Nampo nie onder mekaar kla oor alles en nog wat nie. Hulle mielies staan hoër as Jan Pickard of Frik du Preez as hulle rank in die lynstaan. Selfs die mees omgesukkelde transportman in Neels se heugenis, Oom Piet Boorman van Leeufontein het minder tande gekners. Dis die selfde oom Piet wat ‘n onbedagte lorriesmous op ‘n slag warm geklap het omdat hy te haastig op sy perseel gery het. Gelukkig het Neels nie tussenbeide getree nie.
Toe die warmgeklapte salesman uit die pad geveeg is, merk Neels teen oom Piet op: wie is hy om stof op te jaag in oom se jaart? Halfuur later het Oom Piet sy bestelling vir Neels gegee. Hierdie jaar wat nou in die pylvak is, was gelaai met onverwagte verrassings.
In April, net voor Neels se verjaarsdag, word ‘n kleindorpie se tender aan Neels toegeken. Die betrokke amptenaar het nie net soos ‘n siviele ingenieur gelyk nie. Hy het die Tukkiesstempel uitgedra, in kennis en woord. Neels sal meneer Pepler, die ingenieur, se verduideliking van die voertuig op hulle tender nooit vergeet nie. Hier werk ons hoofsaaklik met potte en emmers al die jare. Die Raad het besluit om oor te slaan na die pyp en suigstelsel. Dit beteken ons is klaar met die jêmlorrie era. My Engelse kollega noem die nuwe lorrie ‘n honey sucker! Bestudeer die spesifikasie, dis hoofsaaklik ‘n vakuumtenk met 8000 liter kapasiteit.

Neels is soos gewoonlik in ligte luim en wil gemaak ernstig weet of die SG van hierdie tipe jêm hoër as water is? Meneer Pepler se lagbui was ewe aan ‘n jong hings wat rinnik as hy ingebreek word. Hierdie tender was die eerste en enigste doelgerigte voertuig, om rou riool te hanteer, wat Neels suksesvol afgehandel het. Neels was ‘n gewone lorriesmous, geensins ‘n tegniese makelaar nie.
Die winter van daardie jaar is aangeteken as bykans die koudste in mense heugenis. Selfs die water in die radiators het verys. Die oorhaastige en onkundige drywer wat sy lorrie dan opstart en ry, het groot marakas gemaak. Die gesoute drywer het sy lorrie se enjine die vorige aand met komberse of isolasie materiaal bedek om die koue hok te slaan. Op ‘n snerpende oggend roep die Verkoopdirekteur vir Neels na sy kantoor. Trek die deur maar agter jou toe, nooi meneer Smith hom in sy glaskaskantoor binne.
Sy kantoor is bykans net glaspanele sonder gordyne. Hierdie glaspanele is ondeursigtig donkerblou van buite. Meneer Smith kan van binne alles betrag, die werkswinkel, ontvangs en die verkooplokaal!
Hy stel Neels gerus en wens hom weereens geluk met sy honey sucker tender: ons winsgrens op daardie transaksie was uniek. ‘n Tender vir vier cherry pickers van ons Stadsraad is aan ons toegeken. Ek het besluit dat jy die durf en kennis het om ons maatskappy se vlag hoog te laat wapper met hierdie vier cherry pickers. Hy oorhandig ‘n lywige versameling dokumente aan Neels en spoor hom vir oulaas aan: jy ken mos van cherry pickers?
Neels hou sy geheim dig, hy weet niks van hierdie pluk masjienerie af nie. Wil die Munisipaal nou met kersie bome begin boer? Na twee dae se indiepte navorsing kom Neels agter die kap van die byl uit. ‘n Cherry picker is ‘n voertuig in die medium gewiggrens wat toegerus word met ‘n hidroliese hyskraan. Aan die verste punt van die gestrekte hyskraan, ongeveer 18 meter hoog, word ‘n veiligheidsmandjie geinstalleer waarin ‘n werker opgehys word. Hierdie werker se taak is hoofsaaklik om foutiewe straatligte te vervang.

Die drywer van so’n doelgerigte lorrie moet sy storie ken wanneer hy die mandjie, met die werker en sy toebehore met hefboompies op die hidroliese stelsel manupileer tot by die foutiewe lig. Die hoogste ligte was in die sportstadion. Dan moes die werker nie aan hoogtevrees ly nie. Die aflewering van die vier cherry pickers het juis plaasgevind by die sportstadion. Die plaaslike koerantjie was eerste op hulle plek en toe arriveer die Nasionale Pers se tegniese joernalis om die kersie op die koek te plaas. Stel die voorbarige vent voor dat hy en Neels saam in die mandjie ry want hy wou lugfotos neem! Alhoewel hulle gesamentlike gewig net ‘n aks meer as die vervaardiger se maksimum toelaatbare massa in die mandjie is, knik Neels sy kop instemmend. Dit was die eerste keer dat Neels plat in ‘n mandjie gesit het.
Die snormanjoernalis het ‘n steelfoto van hom geneem waar hy met toegeknypte oë die blou lug instaar, sy blaker vasgeplant op die mandjie se vloer. Neels was glo van geboorte af met hoogtevrees gepla. Die steelfoto hang tot vandag toe in die raadsaal se geskiedkundige versameling.
Nou het die feestyd aangebreek en Kerspartytjies is aan die orde van die dag. Die transportmanne trek hulle strydrosse in perdeskoenformasie. ‘n Markiestent of afdak word in die middel opgeslaan met al die nodige toebehore. Klanktoerusting, spitbraaie, sinkbaddens vol ys met voggies vir elke smaak en genoeg tafels vir die glase en eettoerusting. Daar’s nie plek vir stoele nie; hier gaan gepaartie word en stoele is vir die kantoor bedoel. Hierdie makities het deurgedruk tot ligdag en dan het almal onder emmers koue water deurgeloop voordat die groetboeretroos bedien is. Die krismislorries wat in perdeskoenformasie alles moes deurmaak, het tevrede kop geknik.

Neels het nooit vakansie gevat met die feestyd nie. Met spesiale toestemming kon hy ‘n nuwe perd huis toe vat vir krismis en oujaarsaand. Hy en sy sielsgenote het dan die dorp se strate ingevaar met die opgemaakte spogperd. Kleurvolle vlae en balonne het gewapper terwyl Neels en sy gesante Voortrekkerstraat laat ontplof met luide enjine gromme afgewissel met die blink trompettoeter wat die pad oopvee met sy skerpsnydende vokale. Hierdie triomftoer deur die strate het deel gevorm van die jolige feesgangers wat die nuwejaar ingewag het. Wanneer die groot horlosie dan sy twaalfde slag slaan, start Neels sy fleurige perd en trek sy toeter los met aanhoudende salvos om die nuwe jaar aan te kondig. Die Krismislorrie kon sy ding doen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
